“Die verdagte het die slagoffer toe met geweld seksueel aangerand.”
’n Bejaarde vrou van Dan Pienaar in Bloemfontein is in haar huis deur ’n onbekende man verkrag. “Nadat hy die bejaarde vrou (77) Vrydag (31/5) seksueel aangerand het, het hy ’n paar items uit haar huis gesteel, insluitend al die sleutels,” sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Hy het ook die motorhuisdeur gebreek en haar wit Datsun Go gesteel.”
Die polisie sê die vrou het omstreeks 21:00 in haar huis in Winterstraat, Dan Pienaar geslaap. “Blykbaar het sy ’n rukkie later wakker geword en was geskok om ’n onbekende man met ’n klapmus langs haar bed te sien staan,” sê Covane.
‘Misdadigers teiken bejaardes weens hul kwesbaarheid’
Die man het die slagoffer toe met geweld seksueel aangerand. Die Bayswater-polisiekantoor ondersoek ’n geval van huisroof met bykomende aanklagte van verkragting en voertuigdiefstal.
“Misdadigers teiken die bejaardes weens hul kwesbaarheid wat die behoefte aan jare lange veiligheidsmaatreëls beklemtoon,” sê Charnel Hattingh van Fidelity ADT. Sy sê tuisveiligheid is belangrik soos sterk slotte en om noodkontakte byderhand te hê.
“Verifieer die identiteit van besoekers voordat jy die deur oopmaak. Wanneer jy buite is, lig iemand in oor jou planne en vermy geïsoleerde areas. Hou persoonlike items veilig,” sê sy.
Maak seker al jou deure kan behoorlik sluit. Foto: Pixabay
Hattingh sê hoewel ouer mense hulself met hierdie voorsorgmaatreëls kan beskerm, het die jonger geslag steeds ‘n rol om te speel. “Besoek of bel gereeld bejaarde familielede of bure en bied aan om hulle te help met take of instandhouding rondom die huis.
Hulle voel dalk nie meer so selfversekerd soos hulle eens was met take soos om op lere te klim om gloeilampe te vervang of die kruideniersware huis toe te dra nie. Maar om te weet dat jy beskikbaar is om te help, kan moontlik van hul stres en angs verlig en voorkom dat hulle ‘n slagoffer van misdaad word.”
Enigeen met inligting wat kan help in die ondersoek of tot die verdagte se inhegtenisneming kan lei, kan kapt. Kelaotswe Lebodi by 082 466 8618 of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 bel. Anonieme wenke kan gestuur word op die MySAPS-app vanaf ’n slimfoon.
