‘n Werknemer van ‘n kontrakteur by Eskom se Matla-kragstasie is in hegtenis geneem op die vermoede van diefstal van koperkabels.
Hy staan tereg op aanklagte van diefstal en die onwettige besit van ‘n koperkabel ter waarde van sowat R4 000.
Eskom se waarnemende hoofbestuurder vir sekuriteit, Botse Sikhwitshi, het gesê die nutsmaatskappy se sekuriteitspanne het op misdaad by Eskom toegeslaan.
“Ons prys die sekuriteitspanne van Matla-kragstasie vir hul waaksaamheid. Die arrestasie van die verdagte strook met Eskom se nul-verdraagsaamheidsbenadering teenoor onwettige aktiwiteite. Verder werp die samewerking met wetstoepassers ook vrugte af.
“Eskom het ook ‘n afname van 5% op misdaadvoorvalle regoor die maatskappy aangeteken in die 2023/24-boekjaar vergeleke met 2022/23-boekjaar,” het Sikhwitshi gesê.
Intussen sê Eskom herstelwerk aan ‘n gevandaliseerde transformator wat minstens nege gebiede in Soweto raak, vorder.
Die transformator is beskadig toe ’n brand weens onwettige verbindings en vandalisme uitgebreek het.
“Terwyl ons die beskadigde transformator herstel het, het ons daarin geslaag om elektrisiteit aan al die geaffekteerde gebiede te verskaf deur drie ander bestaande transformators in die Zola-substasie te gebruik. Hierdie tydelike maatreël het egter gelei tot verhoogde elektrisiteitsverbruik bo die kapasiteit van hierdie drie transformators.
Gevolglik implementeer Eskom beurtkrag tussen 17:00 en 22:30 daagliks tot 30 Junie. Die skedule is aan gebruikers gekommunikeer. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie beurtkrag nie dieselfde is as die nasionale beurtkrag nie; nasionale beurtkrag is vir 90 agtereenvolgende dae opgeskort. Dit is due Eksom bevestig.
Die nutsdiens verwag dat alle herstelwerk teen Sondag afgehandel sal wees.
“Eskom veroordeel die voortdurende diefstal en vandalisme van sy toerusting regoor Transvaal ten sterkste. Daar was ‘n toename in voorvalle van diefstal en vandalisme, wat gelei het tot die verlies aan inkomste en verhoogde vervangingskoste vir Eskom.
“Hierdie kriminele dade raak nie net die kragvoorsiener nie, maar dit belemmer wetsgehoorsame, betalende kliënte en raak gemeenskapsdienspunte soos gesondheidsorgfasiliteite, onderwysfasiliteite, besighede en die ekonomie in die breë soos gesien met die Zola-voorval,” het Eskom gesê. . – SAnews.gov.za