Afrikaans is 100 jaar oud: Laer Volkskool Heidelberg vereer Afrikaans met monument

Die Laer Volkskool Heidelberg het op 8 Mei ‘n monument onthul ter viering van die 100ste bestaansjaar van die Afrikaanse taal.

Die inhuldigingsgeleentheid, wat deur leerders, personeel en die gemeenskap bygewoon is, het die ryk erfenis en betekenis van Afrikaans in die geskiedenis van Suid-Afrika uitgelig.

Die Suikerbos Voortrekkers het verrigtinge ingelei met vaandels en die landsvlag wat tot by die monument gedra is, en Suikerbos Voortrekkers-kommandoleier Dawie de Villiers het daarna vertel dat die leerders bevoorreg is om by ’n skool te wees waar drie monumente staan.

“Eerstens is die skool self ’n erfenisterrein. Laer Volkskool is op 11 Januarie 1907 ingehuldig.

“Dan is daar ook ’n sementblad met die spore van die osse wat die feeswaens getrek het op 16 Desember 1949, en die nuutste toevoeging is die monument wat Afrikaans se 100 jaar as amptelike Suid-Afrikaanse taal vier,” het De Villiers gesê.

Hy het ’n kort oorsig gegee van waar Afrikaans vandaan kom en vertel dat die taal onder die Engelse as ’n kombuistaal bekend gestaan het en baie min neergeskryf was.

Die Genootskap van Regte Afrikaners het die eerste Afrikaanse taalorganisasie gestig, en op 8 Mei 1925 is Afrikaans in die parlement as amptelike taal van die Unie van Suid-Afrika erken.

Hy het ook genoem dat daar vandag ongeveer 20 miljoen mense is wat Afrikaans praat.

“Vandag is julle kinders baie gelukkig om in meeste van julle se moedertaal, Afrikaans, skool te gaan, en die monument wat opgerig word, is vir elke skolier wat in Afrikaans skoolgaan en elke onderwyser wat kinders in Afrikaans onderrig, asook elke persoon wat trots is om Afrikaans te praat,” het De Villiers die kinders toegespreek.

Riekie Bornman, wat die funksie gereël het, het tydens haar spreekbeurt gesê dat elke kind se naam in ’n boks geplaas sal word en saam met die monument wat opgerig is, bewaar sal word.

“Dalk, oor 100 jaar van nou af, kom jou eie kinders of kleinkinders die erfenisgebeurtenis vier,” het Bornman genoem en ook bygevoeg dat kinders klippies gekry het waarop hulle iets moois kan skryf en dit dan kan kom neersit by die monument.

Die monument, wat op die skoolterrein opgerig is, dien as ’n simboliese herinnering aan die ontwikkeling en voortbestaan van Afrikaans as ’n unieke taal.

Die skoolhoof, Piet Strydom, het tydens sy toespraak beklemtoon hoe belangrik dit is om die taal en kultuur te bewaar en aan toekomstige geslagte oor te dra.

Die monument, in die vorm van ’n ossewawiel, is onthul en Afrikaanse mylpale is op die monument aangebring:

• Op 6 April 1652 land Jan van Riebeeck in die Kaap, en vandaar ontwikkel Afrikaans onder die Boere as spreektaal, terwyl Nederlands as skryftaal gebruik word.

• In 1836, met die Groot Trek, trek die Boere uit die Kaap weg van die Engelse en die Engelse taal, en bring Afrikaans na die binneland.

• Op 6 April 1861 word ’n afsonderlike boek met die titel Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar over het onderwerp van afscheiding tusschen de Oostelyke en Westelyke Provincie uitgereik deur Louis Meurant.

• Op 14 Augustus 1875 word die eerste Afrikaanse taalorganisasie, die Genootskap van Regte Afrikaners, gestig deur SJ du Toit, CP Hogenhout en Arnoldus Pannevis.

•In 1903 word Laer Volkskool gestig in die kelder van die Klipkerk vir onderrig in Afrikaans – waarskynlik die eerste Afrikaanse skool in Suid-Afrika buite die Kaapprovinsie.

• In 1914 word Afrikaans as skooltaal deur die Unie van Suid-Afrika erken.

• Op 8 Mei 1925, 100 jaar gelede, word Afrikaans in die Unie van Suid-Afrika se parlement erken as amptelike taal saam met Engels.

• In 1931 word die Voortrekkers as Afrikaanse jeugorganisasie in Bloemfontein gestig.

• In 1933 word die eerste volledige Afrikaanse Bybel vertaal.

• Op 31 Mei 1961 word Afrikaans een van die twee amptelike tale van ons land met die Republiekwording van Suid-Afrika.

• Op 10 Oktober 1975 word die Afrikaanse Taalmonument te Paarl ingewy om Afrikaans se 50 jaar as amptelike taal te vier.

• In 1994 word Afrikaans een van die elf amptelike tale van Suid-Afrika.

• 8 Mei 2025 vier ons Afrikaans se 100 jaar as amptelike taal van Suid-Afrika.

• In 2025 is daar ongeveer agt miljoen eerstetaal-Afrikaanssprekendes en ongeveer 20 miljoen sprekers van Afrikaans wêreldwyd.

Die gemeenskap van Heidelberg het hierdie besondere geleentheid met entoesiasme verwelkom en beskou die monument as ’n waardige huldeblyk aan Afrikaans.

Dit sal as ’n lewende herinnering dien vir huidige en toekomstige geslagte en ’n baken wees vir taalontwikkeling in die streek.

Heidelberg/Nogel Heraut

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui