Pasiënte wat die Karenpark-kliniek in Akasia, Pretoria-Noord, besoek, is na bewering die afgelope paar weke van die fasiliteit weggewys omdat daar geen dokter aan diens was nie.
Raadslid Rina Marx van die Vryheidsfront Plus, wat onlangs die kliniek besoek het, het gesê haar party het die Gautengse Gesondheidsdepartement weke gelede gewaarsku dat die situasie sou ontstaan nadat die departement dokters se kontrakte skielik op 31 Maart 2025 beëindig het.
Marx, wat ‘n voormalige lid van die Burgemeesterskomitee vir Gesondheid in Tshwane is, het ook daarop gewys dat die kliniek spesialiseer in die behandeling van vroue en kinders en dat al die betrokke dokters deel was van die loodsprogram van die Nasionale Gesondheidsversekering.
“Die besluit raak duisende pasiënte wat die 24 klinieke in die Tshwane Metro besoek. Baie pasiënte maak staat op hierdie klinieke vir die behandeling van MIV/VIGS, TB, seksueel oordraagbare siektes, prenatale sorg en chroniese medikasie,” het sy gesê.
Volgens haar kan die kliniek se pasiënte nie private gesondheidsorgdienste bekostig nie en word noodsaaklike gesondheidsorg geweier.
Sy het gesê haar party se LPW in die Gautengse Wetgewer, Advokaat Anton Alberts, het reeds navraag gedoen oor die saak by die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko.
“Die party eis antwoorde van die LUR en ‘n verduideliking van hoe die Departement sal verseker dat pasiënte die sorg kry wat hulle benodig,” het sy gesê.
Marx het kommer uitgespreek dat as die situasie nie gou aangespreek word nie, dit in ‘n gesondheidsramp kan ontaard.
Toe hy om kommentaar gevra is, het die Gautengse Gesondheidsdepartement gesê: “Dankie vir u media-navraag. Let egter asseblief daarop dat hierdie fasiliteit onder die jurisdiksie van die Stad Tshwane val, en dus moet u navraag aan hulle gerig word.”
Munisipale woordvoerder Lindela Mashigo het bewerings ontken dat kliënte by die kliniek weggewys is.
“Die stad verskaf verpleegstergedrewe en dokter-ondersteunde primêre gesondheidsorgdienste namens die Gautengse Provinsie Gesondheidsdepartement. Daar is tans twee dokters wat die Karenpark-kliniek ondersteun,” het hy gesê.
Hy het verduidelik dat die provinsiale gesondheidsdepartement die kontraktuele aanstelling van dokters hanteer en hulle na stadsklinieke ontplooi.
“Daar moet kennis geneem word dat nie alle kliënte ‘n dokter hoef te sien nie, maar ons klinieke bly steeds funksioneer met die beskikbare hulpbronne,” het hy gesê.
Mashigo het gesê die stad werk nou saam met die gesondheidsdepartement om ononderbroke gehaltedienste vir inwoners te verseker.
“Met betrekking tot u vraag oor die VF Plus wat die Gautengse Gesondheidsdepartement gewaarsku het en dokterskontrakte beëindig het, word u versoek om die Kantoor van die LUR van Gesondheid in Gauteng te kontak,” het hy gesê.
IOL
