Hierdie merkwaardige standbeeld deur die beeldhouer, Anton van Wouw van die Kaalvoetvrou net buite Bergville in Natal, staan as blywende inspirasie vir almal met ‘n vryheidsdrang.
In 1843 lei Susanna Maritz Smit, suster van die trekleier Gert Maritz en eggenote van Erasmus Smit, ‘n groep van 400 Voortrekkervroue na die kommisaris van Natal, Henry Cloete, om hul misnoeë met die Britse anneksasie van Natal te wys.
Dit was tydens hierdie ontmoeting met Cloete dat Susanna gesê het: “Ons sal eerder kaalvoet (barevoets) oor die Drakensberge terugstap as om onder Britse gesag te staan.”
Hierdie befaamde woorde is egter nooit in daad volbring nie aangesien Susanna later in Natal onder Britse gesag oorlede is. Desnieteenstaande hierdie hartseer feit, bly haar tydlose woorde tot vandag toe nog ‘n treffende boodskap waarmee die dapper vroue van ons volk dit as maatstaf gebruik om hul deursettingsvermoë duidelik te laat blyk. Ons was nie daardie dag teenwoordig nie, maar ek reken dat Cloete net hierna sy doek moes gaan omruil.
Die opofferings van ons volk se vroue tydens die Groot Trek van 1836-1838, die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-1881, die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902, die Rebellie van 1914, die Tweede Wêreldoorlog van 1939-1945, die Grensoorlog van 1966-1989 en die Nuwe Suid-Afrika van 1994-nou word alles in hierdie enkele sin saamgevat.
Ons dapper Boerevroue sal eerder kaalvoet oor die Drakensberge stap as om slawe in hul Vaderland te wees.
Broers, juig en lig jul hoede! Hier gaan ‘n parade van ons volk se dapper vrouens verby. Dis ‘n parade wat strek van ver in die verlede tot in die hede.
Leon Cornelius – Maar net mens op FB
