En so word Suid-Afrika oënskynlik beheer: Sadtu dreig om te staak as BELA nie geïmplementeer word nie

Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie het president Cyril Ramaphosa versoek om Vrydag se sperdatum te haal en die twee finale klousules van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette in wet te onderteken.

Klousule 4 sal die departement van basiese onderwys in staat stel om skole opdrag te gee om meer leerlinge in te skryf as daar ‘n oorskot by sommige is.

Klousule 5 laat provinsiale departemente toe om skole se moedertaalonderrigbeleid te wysig slegs indien die gemeenskap rondom die skool nie daardie taal praat nie.

Ramaphosa het die wet in September onderteken, maar weens teenkanting van die DA het hy die implementering van klousule vier en vyf vir drie maande uitgestel om vir onderhandelinge en oplossings voorsiening te maak.

Sadtu se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê hulle sal regstappe neem en staak indien die Bela-wet gewysig word.

“Die Bela-wet is nie in enige geregshof betwis vir die grondwetlikheid daarvan nie en ook nie deur enige geregshof ongrondwetlik verklaar nie. Daar was geen wettige, rasionele of grondwetlik geldige rede om die twee afdelings nie in werking te stel nie.”

Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van Sadtu, het in September gesê die vakbond het die opskorting van die twee klousules verwerp.

“Die BELA-wetsontwerp moet as ’n geheel geïmplementeer word, aangesien dit die fundamentele reg van ons kinders en ouers is om te verseker dat ons skole geïntegreer, gedemokratiseer en ontras is.

“Die kongres het besluit dat die president daardie spesifieke skorsing moet ophef sodat die BELA-wetsontwerp, as ‘n wet, nou geïmplementeer word om die kwessies van sosiale samehorigheid, integrasie en transformasie van ons samelewing aan te spreek.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui