Polisie in Gauteng trek 7 vermeende ontvoerders vas

Die polisie in Gauteng het die afgelope week twee ontvoerde sakemanne gered, sewe ontvoerders gearresteer en beslag gelê op vuurwapens, selfone en voertuie wat in die pleging van die misdade gebruik is.

Volgens die polisie is ‘n Chinese sakeman Saterdag in Springs in Ekurhuleni deur ‘n groep verdagtes gekaap en ontvoer.

Binne 24 uur, het die polisie die ontvoerders in Lenasia, suid van Johannesburg, opgespoor terwyl hulle besig was om inligting te verwerk.

“Die span het die ontvoerders se voertuig, ‘n Audi A3, by ‘n kruising in Lenasia onderskep en twee verdagtes in hegtenis geneem op Sondag, 8 Desember 2024. Die span het toe na ‘n adres in Meriting gegaan waar hulle nog een ontvoerder gearresteer en die sakeman gered het,” sê Amanda van Wyk, polisiewoordvoerder.

In ‘n onverwante voorval, op 1 Desember, is nog ‘n sakeman deur ‘n groep verdagtes in Wierdabrug buite Pretoria gekaap en ontvoer.

Die slagoffer se voertuig is later in die omgewing van Heuweloord teruggevind.

“Intelligensie het ‘n multi-dissiplinêre span gelei om die ontvoerders se voertuig, ‘n Jeep, wat in ‘n motorhuis in Nellmapius, Tshwane verlate gelaat is, terug te vind. Die span het ’n leidraad opgevolg wat hulle na ’n adres in Mamelodi gelei het waar hulle vier verdagtes in hegtenis geneem en twee ontvoerde slagoffers gered het,” het Van Wyk bygevoeg.

Ondersoeke in beide hierdie sake is steeds aan die gang.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui