Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers het van 32,9% in die eerste kwartaal van vanjaar tot 33,5% in die tweede kwartaal toegeneem.
Tweede kwartaal van 2024. Bron: Statistieke SA
Dit is die hoogste koers sedert 2022. Ekonome wat deur Bloomberg ondervra is, het verwag dat werkloosheid tot onder 32% sou verbeter.
Sowat 8,4 miljoen mense is nou werkloos in Suid-Afrika – van 5,2 miljoen ‘n dekade gelede, het Statistieke SA berig. Meer as 76% van hierdie mense sit al langer as ’n jaar sonder werk, vergeleke met minder as 66% in 2024.
Statistieke SA sê dat 3,6 miljoen (35,2%) uit 10,3 miljoen jongmense van 15 tot 24 jaar nie werk, onderwys of opleiding gehad het nie.
Die uitgebreide werkloosheidsyfer – wat moedelose werksoekers insluit wat opgehou het om werk te soek – het in die tweede kwartaal van 2024 tot 42,6% gestyg.
Van die provinsies het Noordwes (54,2%) die hoogste uitgebreide werkloosheidsyfer in die tweede kwartaal gehad, gevolg deur die Oos-Kaap (49,7%). Limpopo het die grootste verskil tussen uitgebreide en amptelike werkloosheidsyfers van 15,7 persentasiepunte aangeteken.
