Die taxistaanplek is nie gebruik nie omdat taxibestuurders sê dit is te klein om in om te draai. Mense bedryf bedags ‘n motorwassery daar.
Pendelaars in Tsomo in die Oos-Kaap wat al sedert 2019 wag vir ‘n funksionerende taxistaanplek, sal nog minstens twee jaar moet wag, terwyl die koste van die projek van R5,8 miljoen tot meer as R20 miljoen balon.
Volgens die woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van samewerkende regering en tradisionele sake, Pheello Oliphant, het die IntsikaYethu Plaaslike Munisipaliteit R5,8 miljoen begroot vir die Tsomo Taxi Rank-projek, wat in Junie 2019 voltooi is.
Die taxistaanplek het ses spoeltoilette, ‘n klein kantoor en vyf handelaarstalletjies. Maar die staanplek is nog nooit gebruik nie, want taxibestuurders sê dit is te klein om in om te draai.
Toe GroundUp dit ‘n week gelede besoek het, het ons deure, vensters, toilette en krane stukkend gevind, en vuil klere op die vloer. Inwoners het gesê die taxistaanplek word na-ure en vroegoggend deur misdadigers gebruik.
Bedags word dit as ‘n karwassery deur jongmense in die omgewing gebruik.
Zuko Tshangana, woordvoerder van die IntsikaYethu Plaaslike Munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit het aansoek gedoen vir bykomende befondsing om vir ‘n afdak, omheining en ‘n toegangspad te betaal.
Oliphant het gesê dié tweede fase sal R14,4 miljoen kos.
Sibongile Gwadela, voorsitter van die Tsomo-taxivereniging, het gesê taxi’s kan nie ‘n U-draai in die ruimte maak nie, maar bestuurders het ingestem om dit te gebruik as die munisipaliteit ‘n toegangspad bou.
Hy het gesê hulle het sedert Oktober 2021 vir die toegangspad gewag.
Gwadela het gesê die taxi-staanplek is broodnodig. Die meeste taxi’s laai mense langs die pad op. Daar is ‘n klein taxistaanplek by die Shoprite-kompleks, maar die eienaar beoog om die kompleks in daardie ruimte te ontwikkel, het Gwadela gesê.
“Hierdie konstruksie is in 2019 voltooi. Hulle versuim om net twee dinge te doen, ‘n afdak op te sit en ‘n toegangspad te bou,” het hy gesê.
Die organiseerder van die taxivereniging, Mbuso Jaca, het gesê hulle het die munisipaliteit baie vroeg ingelig dat hulle nie tevrede is met die struktuur van die taxistaanplek nie.
Oliphant het gesê die terrein is in ‘n rotsagtige area en het beperkte spasie. Hy het gesê noudat die raad fase twee goedgekeur het, sal die gebied uitgebrei word “volgens die behoeftes van die taxi-operateurs en om meer kombi-taxi’s te akkommodeer”.
Hy het gesê fase twee sal in die 2025/26-boekjaar geïmplementeer word.