Cullinan-man glo by hoenderhok aangeval; sterf ná aanranding
Die 81-jarige Dirk Kritzinger was vermoedelik nog doenig by sy hoenders se hokke toe hy aangeval is.
’n Emmertjie hoenderkos en nog een met twee eiers in het nog by die hek na die hokke op die nou verlate hoewe by Cullinan gestaan terwyl een van die mans wat hom glo vermoor het, Maandag in die hof verskyn het.
Kritzinger en sy vrou, Sarie (77), is Vrydag 19 Julie of Saterdag 20 Julie deur ’n groep mans aangeval.
Luidens die klagstaat blyk dit dat albei genadeloos met ’n onbekende voorwerp geslaan is, veral oor die kop en in die gesig.
Dirk is met draad vasgebind toe hy vermoedelik reeds erg gemartel was.
Hy was reeds dood toe hulp opdaag.
Sarie het op die kombuisvloer gelê.
“Hulle het gedink sy is dood, maar sy het later gesê toe sy mense hoor, was sy bang dis die aanvallers en toe lê sy botstil en maak of sy dood is,” is uit ’n bron verneem.
Enkele dae later, op 25 Julie, is Andries Komane Sello in Refilwe, nie ver van die dorp af nie, aangekeer.
Die 35-jarige Sello het Maandag in die landdroshof in Cullinan verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en die onwettige besit van twee vuurwapens en ammunisie.
Die lys geroofde items sluit kruideniersware, huishoudelike items, ’n gereedskapkissie, ’n bondel sente, potte, vuurwapens, elektriese komberse, ’n kampstoel, linne en visstokke in.
Die lys van vermoedelik gesteelde items wat in Sello se besit gevind is, is glo identies. Die polisie het ook ’n geweer, vermoedelik Dirk s’n, gevind.
Sello wou weet of hy om borgtog kon aansoek doen. Die staat het uitstel gevra om die nodige inligting vir so ’n aansoek te bekom.
Intussen bespiegel inwoners dat die Kritzinger-egpaar, wat al 42 jaar op hul kleinhoewe in Louwsbaken woon, dalk reeds die Vrydagmiddag aangeval is.
Dirk het blykbaar altyd so ná 16:00 na die hoenders gegaan. Die hokke was gesluit, behalwe een, en die emmertjies was nog by die hek.
Die inwoners sê ook daar was bloedkolle op die gras waar hulle hom seergemaak het, en dié in die huis, teen Saterdag nie meer vars nie.
Die draadheining van die perseel is aan die stiller kant van die hoewe geknip en die veiligheidskamera naby die deur is boontoe gedraai.
Dit lyk of Sarie eerste in die huis oorrompel is.
Dirk is vermoedelik by die hoenderhokke aangeval en toe na die motorhuis gebring. Dit lyk of hulle sy bakkie wou vat, maar gesukkel het om dit aan te skakel. Om Dirk sover te kry om vir hulle te sê hoe die aansitter werk, het hulle hom waarskynlik so erg aangerand dat daar bloedkolle op die gras was, sê inwoners.
En toe is hy die huis ingevat.
Die Kritzingers se dogter, Deidré, het die Saterdag onraad vermoed toe haar pa nie sy foon beantwoord nie en het mense van haar ouers se kerk gebel. Die kerkmense is na die hoewe.
Dirk was in die sitkamer. Hy was met staaldraad vasgebind en reeds dood, is uit bronne verneem.
Sarie se kinders wil niks sê oor haar toestand nie uit vrees dat dit die ondersoek kan benadeel.
