Uit die pen van Volkskrag Nuus: Redakteur
In die laaste 2 jaar van my skool loopbaan was ons op die hoogtepunt van verdrukking en sanksies was vel teen Suid-Afrika. Ten spyte daarvan was die land se ekonomie baie sterk en gesond. Daar was linkse propaganda wat die rondte gedoen het dat as ons in die 1992 referendum ja stem dit ongelooflik baie vir “sport” sou beteken. Hulle het geweet om die ekonomie te gebruik sou nie werk nie.
Ons land was basies uitverkoop om sport te bevorder en ons volk het soos ’n klip vir die leuen geval. Sport was daardie tyd al die dryfveer vir ons ondergang. Die waarheid was verdoesel met mooi woorde en misleiding van ons kan sport bevorder en dat hier groot anargie sou wees as ons nie aan die ANC bestel sou oorgee nie.
Na 30 jaar van ANC oorgawe is ons in elk geval in anargie gedompel. Misdaad wat die hoogte ingeskiet het. Voedsel en noodsaaklikhede se pryse wat tot met 1000% gestyg het. Korrupsie van ’n ongekende aard. Rasse haat wat aangeblaas word met openlike leuens. Werksgeleenthede wat vernietig is.
Na 30 jaar is ons nog steeds besig om ons beginsels vir sport prys te gee. Na 30 jaar is ons nog steeds besig om weg van God te dwaal terwille van sport. Daar word gesê dat: “Die atlete by die Olimpiese Spele het hard gewerk om deel te neem” en dat “hulle verdien om deel te neem en dat dit hulle Godgegewe talent is wat hulle ten toon stel.”
Dink julle, Jesus sou wou hê dat ons deel uitmaak van die hele affêre?
Jesus het gesê dat ons elkeen ons kruis moet opneem en Hom volg. Dit beteken dat ons soms groot opofferings moet maak terwille van Sy naam. Om deel te neem aan die Olimpiese Spele na die gruwelike vertoning is om die kruis neer te lê terwille van genot eerder as die eer van God. Om deel te neem beteken dat jy saam met die gruwels van die spele saamgaan en dit aanvaar.
Wat het geword van? Ons kan nie God en Mammon gelyktydig dien nie. Wat het geword van? Ons kan nie aan dieselfde juk as die bose trek nie.
Dit is soos in die dae van Daniël en sy 3 vriende. Hulle was met die dood gedreig sou hulle nie saamloop nie. Hulle was inderdaad gevat om doodgemaak te word en nog steeds het hulle nie van hul geloof afgewyk nie. Vandag is ons nie eers meer bereid om ’n waardelose medalje prys te gee terwille van Sy naam nie. Ons gooi al ons beginsels oorboord vir 10-minute van roem.
Is daardie 10-minute van roem die moeite werd? Is daardie 10-Minute van roem jou siel werd? Daardie roem gaan binne ’n kort tydjie soos mis voor die son verdwyn, vervang met iemand anders se “prestasie”. Jou vastheid in God is van ewige duur.
