STEYNSBURG, OOS-KAAP. – Inwoners het Sondagoggend ontdek die museum op die Karoo-dorpie, Steynsburg, is geheel en al leeg gedra.
Die Graaff-Reinet Advertiser berig ’n inwoner het tydens haar oggendstappie ontdek dat die museum se voordeur oopstaan. By nadere ondersoek is gevind ’n gat is deur een van die mure gebreek en alles is uit die museum verwyder.
Hannie Steyn, wat al verskeie boeke oor die dorp en sy geskiedenis geskryf het, het gereeld besoekers op toere deur die museum vol erfenis geneem.
Steynsburg is in 1872 gestig en vernoem na Douwe Gerbrandt Steyn, oud-president Paul Kruger se oupa.
Daar was glo die week voor die inbraak vandalisme by die Metodistekerk langs die museum. ’n Saak van roof is geopen.
