Minstens ses mense sal na verwagting vandeesweek in die hof verskyn in verband met ‘n bedrogskema by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga.
Volgens Eskom is die ses verlede week in hegtenis geneem ná ’n “gekoördineerde intelligensie-gedrewe operasie” en ondersoek.
“Ses individue is gearresteer vir hul betrokkenheid by ‘n bedrieglike verkrygingskema by Kusile-kragstasie. Onder diegene wat aangekeer is, is ‘n voormalige Kusile-verkrygingsbeampte en ‘n verkrygingsbestuurder.
“Ondersoeke het aan die lig gebring dat ‘n pomp in 2018 onwettig vir R857 977 verkry is, ten spyte daarvan dat ‘n identiese pomp met dieselfde reeksnommer in 2015 vir slegs R18 835 gekoop is. Hierdie bedrieglike transaksie het gelei tot ‘n direkte finansiële verlies vir Eskom,” het die kragvoorsiener gesê.
Nog twee verdagtes is steeds op vrye voet met wetstoepassers wat op hul spoor is.
“Hierdie arrestasies vorm deel van die voortgesette pogings deur die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (NATJOINTS) Prioriteitskomitee vir Energieveiligheid en Sekuriteit om bedrog, korrupsie en kriminele aktiwiteite binne Eskom, sy voorsieningsketting en Suid-Afrika se breër energie-infrastruktuur aan te spreek.
“Eskom werk steeds nou saam met wetstoepassingsagentskappe om bedrog- en korrupsiesake te ondersoek. Terwyl hierdie ondersoeke deeglik en tyd-intensief is, beklemtoon die jongste arrestasies aansienlike vordering om aanspreeklikheid en geregtigheid te verseker,” het Eskom gesê.
Dan Marokane, uitvoerende hoof van Eskom, het gesê: “Ons verbintenis tot die uitskakeling van korrupsie binne Eskom bly onwrikbaar. Verreweg die oorgrote meerderheid van ons werknemers toon integriteit en toewyding, en diegene wat by oortreding betrokke raak, sal toenemend ondersoek word en optrede in die gesig staar.”
Rapporteer enige bedrog, diefstal en onwettige elektrisiteitsverkope via die Eskom-misdaadlyn by 0800 11 27 22 of WhatsApp by 081 333 3323. – SAnews.gov.za
