Onreg teenoor ons jeug! – Slegs 5% Afrikaanse leerlinge wil in Engels geleer word

Afrikaans word al hoe meer verwyder van Afrikaanse instellings. Afrikaans sprekende jeug word misken van jul voorreg om in hul moedertaal te studeer. Afrikaans word van skole en universiteite verwyder.

Die Instellings was deur hul voorgeslagte gebou en nagelaat. Die nuwe regime het besluit om hul onvermoë om hul eie instellings te ontwikkel en bevorder weg te steek deur ander se instellings te kaap onder die naam van “geregtigheid”.

Hier is hoe ons jeug voel oor Afrikaanse onderrig:

Afrikaanse matrikulante verkies Afrikaans as onderrigtaal en wil selfs ná hoërskool verder in hul moedertaal studeer.

Dit is een van die sleutelbevindings van die jaarlikse Skoolverlatersverslag wat Solidariteit se Skoliere-aanbod in samewerking met die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) Donderdag vrygestel het. Dié navorsingstudie word reeds die afgelope vier jaar onderneem en groeiende deelnamesyfers aan die studie het in 2024 ʼn hoogtepunt bereik, met 3 223 matrikulante vanuit 108 skole oor die hele Suid-Afrika wat aan die studie deelgeneem het.

ʼn Verslag deur die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) wys boonop dat Afrikaanse skole gemiddeld groter is as die nasionale gemiddeld, hoewel die getal Afrikaanse skole ál minder word.

Ál meer wil in Afrikaans studeer

Meer as 95% van die respondente wat aan die SNI se studie deelgeneem het, het aangedui dat hul moedertaal Afrikaans is.

Die gevolgtrekking uit die studie wat handel oor moedertaalonderrig is duidelik vanuit die navorsing: Die groot meerderheid (78,1%) van leerders voel positief oor Afrikaans as onderrigtaal. Dit oortref selfs die persentasie van 73,1% wat in 2023 se studie verkry is.

Slegs 0,9% van die leerders het aangedui dat hulle negatief voel teenoor Afrikaans as onderrigtaal en net 5,6% sê hulle wil graag in Engels of in ʼn ander taal skoolgaan. Laasgenoemde syfer was met die vorige studie 7,2%.

Nog meer belangrik was die redes wat leerders vir hul voorkeur vir Afrikaanse onderrig aangevoer het. Benewens hul liefde vir die taal en die verbintenis wat dit vir hulle met hul kultuur en identiteit gee, sien hulle ʼn sterk verband tussen moedertaalonderrig en begrip, en die invloed wat dit op goeie akademiese prestasie het.

Bekendheid met terme en begrippe in veral vakke soos wiskunde, maar ook fisiese en lewenswetenskappe, word dikwels as voorbeelde genoem van die voordeel wat moedertaalonderrig hulle bied.

Uit die navorsing is dit ook duidelik dat skoolverlaters se keuse van universiteit sterk deur hul keuse van onderrigtaal beïnvloed word. Altesaam 44% van respondente het in 2021 aangedui hulle wil aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer teenoor 22% in 2024.

Volgens Johnell Prinsloo, opsteller van die verslag en onderwysnavorser verbonde aan die SNI, is die groter behoefte aan Afrikaanse onderrig duidelik en stuur dit ook ʼn belangrike boodskap uit.

“Die tendens van Afrikaanse kinders wat toenemend onderrig in Afrikaans soek, beklemtoon dat daar ʼn groter vraag na enkelmedium- Afrikaanse onderrig bestaan.

“Die verengelsing van Afrikaanse skole oor die algemeen dwing hierdie kinders dus om teenstrydig met hul voorkeur in ʼn meertalige skool te moet skoolgaan,” sê Prinsloo.

Prinsloo sê ondanks die toenemende druk op Afrikaanse skole om na dubbelmedium- of parallelmediumskole oor te skakel (en uiteindelik te verengels), is daar duidelik genoeg leerders om die huidige aantal Afrikaanse skole volledig te benut.

“Die vraag na Afrikaanse moedertaalonderrig kwyn nie, maar neem toe. Dit sal dus eerder ʼn toepaslike aanwending van hulpbronne wees om die bou van nóg Afrikaanse enkelmediumskole te prioritiseer, net soos die bou van enkelmediumskole in die ander amptelike tale van die land,” sê sy.

Afrikaanse skole oorvol

Navorsing deur die SOS steun die SNI se gevolgtrekkings.

Volgens die SOS se navorsing het die aantal Afrikaanse openbare hoërskole van 686 in 2021 tot 555 in 2023 gedaal weens konstante druk om te verengels. Ondanks minder Afrikaanse skole groei leerdergetalle in Afrikaanse openbare skole deurlopend. In 2023 was die gemiddelde Afrikaanse matriekgroep 124 per skool, wat aansienlik hoër is as die nasionale gemiddeld van 101 kandidate per skool.

“Die toename in die gemiddelde grootte van Afrikaanse skole dui op ʼn volgehoue behoefte aan die hoë gehalte van onderrig en gesonde leerkultuur wat Afrikaanse skole bied. Dit weerspreek die idee dat Afrikaanse ouers doelbewus na meertalige of Engelse skole migreer,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. “Die toename in Afrikaanse leerders in dubbel- of parallelmediumskole dui eerder op die verengelsing van skole en nie op ʼn doelbewuste voorkeur nie. Inteendeel, ouers verkies om hul kinders in Afrikaanse skole in te skryf, waar gehalte-onderrig deurlopend gehandhaaf word.”

Hy sê die regering se versuim om skole te bou en die jaarlikse toename van leerders in die stelsel plaas buitengewone druk op bestaande funksionele skole. “Dit dra verder by tot die druk op Afrikaanse skole om te verengels.”

n 2002 was daar 1 814 Afrikaanse enkelmediumskole in Suid-Afrika. Teen 2023 het hierdie getal tot minder as 1 000 enkelmediumskole gedaal, wat ʼn afname van byna 50% verteenwoordig. Hierdie drastiese vermindering plaas Afrikaanse openbare skole onder enorme druk en beperk die beskikbaarheid van moedertaalonderrig vir Afrikaanse leerders.

“Die SOS bly daartoe verbind om Afrikaanse topgehalte-skole te beskerm en uit te bou, en sal daarom voortgaan om te veg vir die behoud van moedertaalonderrig in skole,” sê Fourie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui