Sentraal Transvaal –
Die skoolhoof (51) van Laerskool Primrose Hill is vanoggend in ‘n skietvoorval by die skool gewond. ‘n Gr. 6-leerder (13) is in hegtenis geneem.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi sê die skoolhoof is vir mediese behandeling na ‘n plaaslike hospitaal geneem.
Nevhuhulwi sê die motief vir die skietvoorval is onbekend en word ondersoek. Daar sal ook vasgestel word waar die vuurwapen, waarop beslag gelê is, vandaan kom.
Die tiener sal na verwagting binnekort vir ‘n aanklag van poging tot moord in die Germiston-landdroshof verskyn.
Na bewering het die hoof leerders in die voorportaal sien sit en hulle opdrag gegee om hulle werkboeke vir studie uit te haal. Die betrokke leerder het glo iets onhoorbaars gemompel en is blykbaar deur die skoolhoof geïgnoreer. Die hoof het die leerder glo later by die personeelkamer gesien, waarna hy geskiet is.
Daar is met die skoolhoof na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas. Hy is besig om van sy skietbeserings te herstel.
Mabona sê die vuurwapen behoort na bewering aan die leerder se pa.
Sielkundige ondersteuning sal onder meer aan die skool se leerlinge en personneel gebied word.
