Zuma dreig met ‘vreedsame’ protes

Zuma sê die MK Party wat 45% van die stemme in Natal en 14% nasionaal verwerf het tydens die onlangse verkiesing in Mei 2024, het miljoene stemme aan “ander partye” gegee.

Voormalige president Jacob Zuma het ‘n beroep gedoen op “vreedsame betogings” as daar nie aan sy eise voldoen word om die uitslag van Mei 2024 se algemene verkiesing nietig te verklaar nie. Hy het beweer die uitslae daar is “geknoei” teen sy uMkhonto weSizwe (MK) Party”.

Slegs dae nadat die nuut herverkose president Cyril Ramaphosa ‘n regering van nasionale eenheid (RNE) aangekondig het, het Nhlamulo Ndhlela, nasionale woordvoerder van die MK Party, Sondag ‘n verklaring namens Zuma gelees waarin hy die koalisie tussen die ANC, DA, IVP en PA nasionaal verwerp en ook NFP in Natal wat hulle tot die koalisie verbind het.

Die MK Party het Vrydag by die verkiesingshof in Bloemfontein appèl aangeteken om die verkiesingsuitslae tersyde te stel.

Zuma het gesê die MK Party – wat 45% van die stemme in Natal en 14% nasionaal gekry het – se stemme is aan “ander partye” gegee.

“Toe ons na die OVK gegaan het en vir hulle gesê het om nie die verkiesingsuitslae te verklaar nie omdat ons bewyse van die onreëlmatighede het, het hulle geweier,” het hy gesê.

“Ons het alle vreedsame maniere probeer om ons griewe aan te spreek. Ons doen ‘n beroep op al ons ondersteuners om geduldig te wees, selfs te midde van alle provokasies deur instellings van demokrasie.”

Toe die MK Party die Konstitusionele Hof genader het om die Nasionale Vergadering se eerste sitting te keer, het Zuma beweer die hof het “tegniese aspekte” gebruik om nie na hulle te luister nie.

Afgesien van die oproep vir massabetogings, het Zuma gesê as die hof teen die MK Party beslis, sal die organisasie internasionaal geregtigheid soek.

Zuma het beklemtoon dat die beplande betogings vreedsaam sal wees, en bygevoeg dat die MK Party nie glo in “die gebruik van geweld om probleme op te los nie”.

In die aanloop tot die algemene verkiesing van 29 Mei 2024 het die MK Party sy ondersteuners belowe dat hy die Grondwet sal afskaf as hy verkies word as president.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet, het die party aangevoer, is nie geskik vir die land se omstandighede nie, aangesien dit op die Romeinse en Nederlandse reg gebaseer is.  Tydens Sondag se pers-inligtingsessie het Zuma die party se standpunt oor die Grondwet herhaal.

“Ons is Suid-Afrikaners, ons is nie Nederlanders of Romeine nie,” het hy gesê.

Die MK Party, wat in verlede maand se algemene verkiesing 37 setels in die Natalse wetgewer en 58 in die Nasionale Vergadering behaal het, het Vrydag die Parlement se eerste sitting geboikot, waartydens Ramaphosa herkies is tot president.

Zuma het gesê die boikot is deel van die MK Party se protes teen die “stemfoefie” en het aangedui dat die organisasie na die Parlement sal gaan om “met progressiewe partye te werk om ons mense te bevry”.

Zuma het die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) afgemaak as ‘n “onheilige alliansie” wat deur “wit kapitaal” beheer word en ‘n beroep op “progressiewe” politieke partye gedoen om nie die RNE toe te laat om voort te gaan nie.

“Dit word deur groot sakeondernemings geborg en dit is tot voordeel van die markte en nie die mense nie. Dit moet vergruis word voordat dit sy voete vind,” het Zuma gesê.

Ten spyte van sy leierskap in die MK Party, het Zuma volgehou dat hy steeds ‘n lid van die ANC is.  Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het Saterdag gesê Zuma het die ANC in oneer gebring deur hom vir ’n mededingende party te beywer en staar dissiplinêre stappe in die gesig.

“Die dissiplinêre komitee teen Zuma sal voortgaan; niks het verander nie. Ons het voor die verkiesing gesê dat dit tot na die verkiesing uitgestel moet word. Daardie dissiplinêre proses sal voortgaan,” het hy gesê.

In Julie 2021 het ’n vlaag van onrus die land verswelg kort nadat Zuma tronk toe gestuur is weens minagting van die hof.  Sowat 350 mense het gesterf, en die geweld en vernietiging het skade aan infrastruktuur en besighede aangerig, wat Suid-Afrika se ekonomie sowat R50 miljard gekos het.

Volgens die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) is ‘n verdere twee miljoen werksgeleenthede verlore of geraak tydens hierdie tydperk van geweld.

Philile Ntuli, SAMRK-kommissaris, het ‘n mate van verantwoordelikheid vir die onrus toegeskryf aan “die oënskynlike verval in wetstoepassing deur staatsveiligheidsagentskappe, veral in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.”

Ntuli het die onrus beskryf as ‘n goed georkestreerde en “gewelddadige hoogtepunt van diepgewortelde politieke en sosiale uitdagings” wat Suid-Afrika in die gesig gestaar het.

Bewyse het aangedui dat die dade tydens die onrus goed georkestreer was, insluitend die blokkering van die N3, vernietiging van fabrieke en pakhuise, aanvalle op regeringskommunikasiefasiliteite en bombardering en diefstal van kitsbanke.

“Hierdie gebeure was onderling verbind en het aansienlike hulpbronne vereis,” het hy in die verslag gesê.

“Twee soorte akteurs is tydens die onrus geïdentifiseer: primêre akteurs wat wydverspreide vernietiging gelei en uitgevoer het, en sekondêre akteurs wat aan diefstal deelgeneem het. Die tydsberekening van die gebeure het saamgeval met die opsluiting van oudpresident Jacob Zuma, wat gelei het tot ‘n persepsie dat die twee verwant is,” het Ntuli gesê en bygevoeg dat geen bewyse Zuma se ondersteuners direk met die geweld verbind nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui