Die begin van die lang Paasnaweek het met verwoestende nuus begin nadat vyf mense Donderdagmiddag dood is in ‘n trompop botsing waarby ‘n bakkie en ‘n sportnutsvoertuig betrokke was op die N4-tolpad tussen Belfast en Machadodorp in Mpumalanga.
Dit is deur die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling bevestig.
Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement, het gesê drie ander mense is ernstig beseer. Nooddienste is na die toneel ontbied ná die gru-ongeluk.
“Daar word geglo dat die gure weer hierdie ongeluk kon veroorsaak het, want dit is reënerig en nat, en motoriste kan nie goed op die paaie sien nie,” het Mmusi in ‘n onderhoud met SABC News gesê.
Hy het motoriste wat in die gebied reis, aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik, aangesien die pad gesluit bly.
“Ons het nie ‘n idee hoe lank dit gesluit gaan wees nie,” het hy bygevoeg.
Die verkeer op Suid-Afrika se hoofroetes het van vandag af aansienlik begin toeneem, aangesien motoriste na Paasnaweekbestemmings reis.
Histories is die Paasnaweek een van die gevaarlikste tye om op Suid-Afrikaanse paaie, met ‘ n groot volume motors, busse en vragmotors wat oor ‘n relatief kort tydperk reis.
Motoriste word versoek om geduld aan die dag te lê in hoërisiko-verkeersones, veral tydens spitstye.
Die besigste roetes sluit tipies die N3 tussen Johannesburg en Durban, en die N1 tussen Johannesburg en Polokwane in, met aansienlike volumes wat ook op die N4 na Mpumalanga verwag word.
