Beskuldigdes vir die moord op die onderwêreldbaas Mark Lifman, word borgtog geweier

Die twee mans wat van moord op die onderwêreldbaas, Mark Lifman, beskuldig word, is borgtog in die George-landdroshof in die Wes-Kaap geweier.

Die twee, onderskeidelik 37 en 53 word daarvan aangekla dat hulle Lifman op 3 November 2024 in die parkeerterrein van die Garden Route Mall geskiet het. Hulle is ‘n paar uur later naby Uniondale in hegtenis geneem.

Lifman sou op 4 November in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn weens die moord op Brian Wainstein.

Hy was die hoofbeskuldigde nadat die sogenaamde Steroid King in Augustus 2017 by sy huis in Constantia geskiet is. Terwyl Lifman op borgtog was, het hy vir ‘n naweek saam met sy vriende na George gereis om gholf by Fancourt te speel. Hy het glo ‘n vergadering met ‘n onbekende persoon by die Garden Route Mall op Sondag 3 November gehad.

Terwyl hy die winkelsentrum verlaat het, op pad na sy voertuig, is hy vyf keer geskiet.

‘n VW Polo het van die toneel weggejaag, en is later opgespoor op die N9, op pad na Uniondale. Die twee beskuldigdes is in hegtenis geneem en van moord met voorbedagte rade aangekla.

Landdros André Aucamp het na aanleiding van betooghoofde vir en teen borgtog deur die verdediging en vervolging die uitspraak gemaak om hulle borgtog te weier. Hy het gesê dit sal nie in die belang van geregtigheid wees om hulle vry te laat nie.

Die saak is tot 20 Februarie vir verdere ondersoek uitgestel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui