Eienaar van Sakkie se Arkie in Upington glo aangerand, uitgejou

“Witmense hoort nie hier nie”

Lede van die ANC-jeugliga het glo slaags geraak met ʼn sakeman van Upington nadat hy ʼn foto probeer neem het van ʼn munisipale vragmotor wat ʼn swembad met water volmaak. Die voorval het op die laaste Vrydag van September 2024 plaasgevind ten aanskoue van passasiers en werknemers wat op die Arkie was.

Sakkie Spangenberg, ʼn bekende sakeman van Upington in die Noord-Kaap en eienaar van die gewilde toeriste-attraksie Sakkie se Arkie, is deur vyf lede van die ANC-jeugliga in die dorp aangerand. Hy moes boonop hoor dat die grond – waar sy Arkie vasgemeer is – “ʼn ANC plek is en dat wit mense nie daar hoort nie”.

Dit volg nadat hy op versoek van Henk Opperman, ʼn DA-raadslid van die dorp, ʼn foto geneem het van ʼn munisipale vragmotor wat ʼn swembad met water volmaak by die ontspanningsoord, wat hy deel met ʼn ander onderneming. Die voorval het op die laaste Vrydag in September plaasgevind

Volgens Opperman is daar nie toestemming verkry om die munisipale water vir die swembad te gebruik nie. “Ek het vir Henk ʼn foto van die trok geneem toe die lede my bestorm. Ek het dit duidelik gemaak dat ek nie vir hulle afneem nie, maar wel die trok. Ek het vir hulle die foto gewys en een persoon het my foon gegryp,” sê Spangenberg.

Spangenberg het aangedring daarop dat die persoon sy foon teruggee, maar dié het bloot geweier. “As ek my foon probeer vat, stamp hy my rond en gee my ʼn paar klappe. ʼn Ander lid het my gevloek en gedreig dat hy my gaan doodmaak.”

Die vyf lede het toe met mekaar begin praat en oogkontak met Spangenberg verloor. Hy het die geleentheid gesien om sy foon te gryp, maar die ander lede het hom van agter oorrompel. “Dit was omtrent ʼn geslaan en ruk en pluk. Ek het verskeie kneusplekke oor my lyf en krapmerke in my gesig, nek en bors opgedoen.”

Die passasiers op die Arkie en van sy werknemers het ook hulp kom verleen.

Volgens Spangenberg het die lede van die jeugliga toe gedreig om die passasier se voertuie te beskadig en benadruk dat die ontspanningsoord ‘n “ANC plek is en witmense hoort nie hier nie.

Inwoners van die dorp het boonop twee van dei ANC jeugliga lede geïdentifiseer as familie van Elias Ntoba, die munisipale bestuurder van die Dawid Kuipermunisipaliteit.

Spangenberg het aan Maroela Media vertel dat hy reeds doodsdreigemente ontvang het oor die gebruik van die Arkie by Olivierpark op die oewer van die Oranjerivier. Die munisipalilteit wil die grond waar dit vasgemeer is, aan ‘n ander party verkoop en Spangenberg is aan die begin van die jaar aangesê om die vaartuig te verwyder. Hy het egter vasgeskop.

Spangenberg sê nou dat die polisie en Dawid Kuipermunisipaliteit niks aan die dreigemente en aanranding doen nie.

“‘n Polisiekaptein het my gewaarsku dat ek nie meer alleen in die dorp moet beweeg nie en altyd gewapen moet bly.”

Spangenberg het na die voorval ‘n saak van aanranding by die polisiestasie op Upingtong geopen en ook ‘n mediese verslag ingedien. Die polisie het hom die dag na die voorval ingelig dat hulle nie die mans in hegtenis kan neem nie omdat hulle onder die invloed van drank is.

Die ANC jeugliga in Upignton kon nie dadelik bereik word vir kommentaar nie.

In die video van die voorval, wat Maroela Media onder oë gehad het, dra die lede hemde van die betrokke jeugliga.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui