DIe direkteur van die nasionale kernreguleerder (NNR) Peter Becker, is in 2022 deur Gwede Mantashe minister van energie, afgedank.
Die Wes-Kaapse hooggeregshof het ten gunste van Mnr Becker beslis en Mantashe het appél aangeteken by die Hoogste Hof van Appèl (SCA) in Bloemfontein. Sy appél is met koste van die hand gewys – weer eens in die guns van Mnr Becker.
Becker het die minister se besluit betwis op grond daarvan dat dit ongrondwetlik en onwettig was. Hy het ‘n bevel aangevra om die besluit ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid te hersien en tersyde te stel.
Die hooggeregshof het ten gunste daarvan beslis en Becker se ontslag is met onmiddellike effek as onwettig, ongrondwetlik en ongeldig verklaar.
Die SCA het nou ook tot die gevolgtrekking gekom dat die Minister onregverdig sy besluit gemaak het voordat Becker vertoë oor sy ontslag gerig het. Dit het die uitspraak van die hooggeregshof bevestig dat die proses prosedureel onbillik en irrasioneel was.
