Die ouers van ‘n babaseuntjie wat nege dae nadat hy gebore is onder die toesig van die vroedvrou Yolande Maritz Fouchee van Pretoria-Oos, oorlede is, sal hierdie week in die Gautengse Hooggeregshof, Pretoria, getuig oor die gebeure wat voor en tydens die geboorte van die baba plaasgevind het.
Die Von Kloeg-familie sou getuig in Fouchee se aanranding- en strafbare manslagverhoor, maar die saak is tot Dinsdag uitgestel. Dit is sodat die vervolging ‘n magdom foto’s en video’s kan deurgaan wat tydens die geboorteproses geneem is.
Die vervolging het Maandag aan Regter Papi Mosopa gesê dat hulle Sondag met die familie gekonsulteer het en dat hulle voorheen nie bewus was van die foto’s en video’s nie. Hulle het gevra om deur hierdie potensiële bewyse te gaan om te sien wat gebruik kan word.
Fouchee en haar regspan sal dan toegang hê tot die potensiële bewyse om te besluit of hulle beswaar sal maak teen die oorhandiging daarvan as bewysstukke aan die hof. Regter Mosopa het sy kommer uitgespreek dat “nuwe” bewyse in hierdie laat stadium van die verhoor aan die hof voorgelê kan word en opgemerk dat dit die reg van ‘n beskuldigde is om voor die aanvang van ‘n verhoor te weet waarmee hulle te kampe het.
Nog ‘n moeder, Carien Möller, wie se dogter Sophia met serebrale verlamming gebore is terwyl sy onder Fouchee se toesig was, het verlede week getuig met behulp van foto’s en video’s wat tydens die geboorteproses geneem is.
Die Von Kloeg-gesin is die derde stel ouers wat in Fouchee se verhoor getuig, waarin sy op 14 aanklagte teregstaan. Nog ‘n gesin, wie se kind ook met serebrale verlamming gebore is, sal na verwagting later getuig.
Die staat beweer dat Fouchee se nalatige optrede die dood van die Von Kloeg-baba veroorsaak het, wat later in die Steve Biko Akademiese Hospitaal oorlede is. Daar word beweer dat Fouchee ook die baba se moeder aangerand het deur die medikasie Cytotec in water te doseer en die moeder die water te gee om te drink voor die geboorte.
Cytotec word gebruik om baarmoederkontraksies te veroorsaak om die kraamproses te bespoedig.
Sy word daarvan beskuldig dat sy nie geïdentifiseer het dat die ongebore baba op 30 weke tekens van groeivertraging getoon het nie, sowel as die waarskuwingstekens van verminderde fetale beweging, soos deur die moeder van die ongebore kind tydens twee voorgeboortelike besoeke aan haar gerapporteer is.
Volgens die vervolging moes sy die moeder op daardie stadium na ‘n dokter verwys het.
Die baba is uiteindelik by Fouchee se You&Me-kliniek in Pretoria-Oos gebore. Daar word beweer dat hoewel die baba baie klein en blou gebore is en nie behoorlik gehuil of asemgehaal het tydens geboorte nie, en ten spyte van die pleidooie van die ouers om op daardie stadium hospitaal toe geneem te word, Fouchee steeds geweier het.
Volgens die vervolging was Fouchee bewus daarvan dat die baba in ‘n kritieke toestand was. Die moeder en pasgeborene is uiteindelik na die hospitaal oorgeplaas, maar die baba is ‘n paar dae later oorlede.
Fouchee het intussen onskuldig gepleit op al die aanklagte teen haar. Sy het verskillende verweer gehad vir elke saak waarmee sy te kampe het, maar volgens haar het sy professioneel opgetree dwarsdeur die hantering van haar kliënte – beide voor en tydens die geboortes.
Sy is intussen deur die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika as ‘n vroedvrou gederegistreer.
IOL
