Eskom maak jag op City Power vir onbetaalde R1 miljard-skuld

Eskom sê hy het by die Johannesburgse hooggeregshof aansoek gedoen om ‘n bevel om Johannesburg se City Power te dwing om sy skuld wat op 31 Maart op R1 miljard beloop het, te betaal.

“Die saak is op 4 Junie vir verhoor op die rol geplaas. Die kragvoorsiener het vanaf Oktober 2023 begin om sy betalings te versuim en geen betaling is vir die Maart 2024-faktuur ontvang nie,” het Eskom in ‘n verklaring gesê.

Eskom het gesê die skuld wat City Power verskuldig het, het sy reeds gespanne finansiële situasie vererger en sy vermoë bedreig om noodsaaklike infrastruktuur in stand te hou, in nuwe tegnologie te belê en aan die groeiende energiebehoeftes van die provinsie te voldoen.

“Bo en behalwe het City Power ‘n dispuut verklaar oor moontlike oor fakturering op grootmaat aankoop fakture wat terugdateer na 2021. Eskom ontken die eise wat City Power gemaak het en sal sy posisie deur die arbitrasieproses bewys.”

Die kragvoorsiener het ingevolge die elektrisiteitsvoorsiening ooreenkomste wat deur die Wet op Elektrisiteitsregulering goedgekeur is, gesê as ‘n munisipaliteit ‘n dispuut met Eskom opper, moet hy steeds betaal.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui