AFRIKAANS EN AFRIKANERSKAP, ONTSTAAN. DEEL EEN

Daar is ’n groot verwarring onder ons as volk en die wêreld oor die ontstaan van Afrikaans en Afrikanerskap.

Die ontstaan van ons as volk bekend as die Boere- of Afrikaner volk se ontstaan het ’n ryke geskiedenis. VOLKSKRAG NUUS het dit goedgedink om ’n reeks te plaas oor die ontstaan van ons as volk.

Volksplanting

Die middag om 14h30 van 5 April 1652 word Tafelbaai gewaar deur die opperstuurman van die Drommedaris, een van die drie skepe waarmee kommandeur Jan van Riebeeck op 6 April 1652 aan Tafelbaai land om ʼn verversingspos vir die VOC te stig.

Die ander twee skepe was die Goede Hoop en die Reijger, wat hulle om vieruur die oggend by die Drommedaris aan die Kaapse kus aangesluit het. Die skepe het op 6 April naby die kus bly le, terwyl Adam Hulster, die boekhouer, en die onderstuurman, Aernt van Ieveren, per sloep vertrek het om Tafelbaai te verken.

Hoewel Jan van Riebeeck en sy geselskap nie lyflik op 6 April 1652 aan die Kaap voet aan die wal gesit het nie, het hy self hierdie dag as die verjaarsdag van die nedersetting beskou.

DIE KULTURELE BETEKENIS VAN DIE EERSTE AFRIKAANSE GESKRIFTE TOT EN MET 1900

Die inligting is verkry vanaf die amptelike werkstuk van die universiteit van Kaapstad van 1940

Skripsie aangebied ter gedeeltelike vervulling van die vereistes vir die Graad M.A. in Nederlands en Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad. Oktober 1940.

INLEIDING

A. ALGEMENE TAALTOESTANDE.

Voor die koms van die Engelse aan die Kaap en daarmee die Engelse taal, was Hollands die taal van Reg en Bestuur, Kerk en Skool.

“Opgevoede” mense, veral in Kaapstad, het waarskynlik nog betreklik suiwer Hollands gepraat; maar op die platteland moes die Hollandse taal onder alle stande al taamlik ver in die rigting van Afrikaans ontwikkel het.

Omdat Hollands deur die “intellektuele en opgevoede” mense gebruik is as skryftaal en omgangstaal, is Afrikaans met die onopgevoede en onontwikkelde laer klasse en kleurlinge geassosieer en beskou as plat.

Tot omstreeks 1825 het daar in die algemene taal toestande nie veel verandering gekom nie. Nou egter, begin die verengelsingsbeleid van die Regering, en die bestuurs en regstaal word uitsluitlik Engels.

Die verengelsing werk ook deur na ander gebiede; op skool word byna geen aandag meer aan die studie van Hollands bestee nie; ook word pogings aangewend om die Engelse taal in die Hollandse Kerk te laat ingang vind.

Afrikaner volk kom in verset

Die volk kom nou in verset teen die verengelsing veral in Kerk en Skool, maar die invloed wat op die hoër kringe van die Afrikanervolk ingewerk het, was te sterk, met die gevolg dat baie losgeslaan word uit hul volksverband.

Die volk is nou byna sonder leiers en die verset dus ongeorganiseerd. Deur verwaarlosing gaan die kennis van Hollands meer en meer agteruit en Engels neem die plek daarvan in. Ook in dorpe vind verengelsing plaas op groot skaal omdat Afrikaners hul eenvoudig laat meesleep en geen teenstand meer bied nie.

Onder sulke omstandighede, dus, sou denasionalisasie van die Afrikaners nie te keer gewees het sonder skokkende gebeurtenisse nie, wat dan ook gekom het in die vorm van botsing teen die Engelse in die vry Boererepublieke in die Noorde.

Die nasionale gevoel word nou sterker, en veral jong intellektueles spoor die volk aan tot verset teen die Britse opperheerskappy. In elke nasionale beweging is taal ‘n belangrike faktor, en ook hier speel dit ‘n groot rol.

Een groep Afrikaners wil probeer die kwynende Hollandse taal nuwe lewe inblaas, terwyl ‘n ander groep voel dat Hollands reddeloos verlore is en daarom gryp na Afrikaans. Omdat taal dan so ‘n belangrike faktor is, moet ons nou let op die eerste voorbeelde van geskrewe Afrikaans; hoe die voorstanders dit gewaag het om die eerste Afrikaanse boeke te maak, want die groot struikelblok was dat daar geen geskrewe Afrikaans bestaan het nie terwyl daar genoeg Engelse en Hollandse boeke was.

Die voorstanders het dus besef dat hulle moes begin boeke skryf in Afrikaans om as leermiddele en propaganda stukke te dien en om hul saak te verdedig teen die beskuldigings wat nou van alle kante kom dat Afrikaans geen taal is nie omdat dit nie in geskrewe vorm bestaan nie.

Reeds vroeg in die tweede helfte van die 19de eeu het mense in Afrikaans geskrywe, maar nog nie met die doel om die taal te bevorder nie, maar meer uit ‘n drang om snaaks te wees. Die geskrifte is dan ook gering geag en uitgeskel as die weergawe van ‘n Hottentots taal.

Dit is eers teen ongeveer 1870 dat mense begin besef dat as hulle die Afrikanervolk van ondergang wil red, hulle na die Afrikaanse taal moet gryp en by die volk ’n gevoel van trots op hulle nasie en hulle eie taal moet aanwakker. Dit is daarom van nou af dat hulle ‘n nasionale betekenis begin heg aan die Afrikaanse taal en begin pleit vir die erkenning daarvan op alle gebiede.

Alhoewel feitlik elke nasionale beweging sy oorsprong in in intellektuele kringe het, lê die werklike krag en waarde daarvan in die volksmassa.

So is hier ook besef dat ’n beroep moes gemaak word op die hele Afrikanervolk en nie net die geleerde en ontwikkelde deel van die volk nie. Daar moes by hierdie volksmassa ‘n taal bewussyn en nasie bewussyn aangewakker word, want as daar eenheid is van denke en strewe, sou daar oneindig meer kon bereik word.

Dit is dan veral deur gebruik te maak van die Afrikaanse taal as middel dat die stryers hul doel bereik. Geskrifte van allerlei aard word uitgegee en versprei onder die volk, en hierdeur word lees- en skryflus aangewakker.

2 thoughts on “AFRIKAANS EN AFRIKANERSKAP, ONTSTAAN. DEEL EEN

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui