Voormalige Misdaadintelligensie (MI)-baas Richard Mdluli en sy medebeskuldigdes, wat aangekla word van die plundering van die polisie se “slush”fonds, het onskuldig gepleit aan die begin van hul korrupsieverhoor.
Die opening van die verhoor is herhaaldelik uitgestel weens talle terugslae.
Mdluli en sy medebeskuldigdes, voormalige voorsieningskettingbestuurder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) Heine Barnard en voormalige hoof finansiële beampte van die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) Solomon Lazarus, het Maandag in die Hooggeregshof van Pretoria verskyn.
Die staat se eerste getuie is kolonel Kobus Roelofese en het Maandag 5 Mei 2025 die getuiebank betree.
Mdluli, Barnard en Lazarus staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog en diefstal met betrekking tot die polisie se geheime slushfonds vanaf die tyd dat hulle in diens van die SAPD in die Misdaadintelligensiedienste was, tussen 2008 en 2012.
Bewerings sluit onder andere in die aanklagte sluit in betalings vir privaat reise na China en Singapoer, privaat gebruik van getuiebeskermingshuise, omskakeling van die eiendom vir persoonlike gebruik, en die verhuring van Mdluli se privaat woning aan die staat om sy borgtog te betaal.
In November verlede jaar het Mdluli se prokureur, Ike Motloung, die hof gevra vir ‘n uitstel van die verhoor hangende ‘n verlof om te appelleer teen ‘n uitspraak wat die voormalige misdaadbaas se hersiening van die polisie se besluit om nie sy verdediging te befonds nie, van die hand gewys het.
Woordvoerder van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie (IDAC), Henry Mamothame, het gesê die Hooggeregshof van Pretoria het Mdluli se aansoek om uitstel van die hand gewys.
“Sy aansoek om verlof tot appèl is as gevolg van die SAPD se weiering om sy regskoste te betaal.
“Deur Mdluli se aansoek van die hand te wys, het Regter Mudunwazi Makamu met IDAC saamgestem en beklemtoon dat hierdie saak al lank op die hofrol is en dat dit die ander twee beskuldigdes benadeel wat dit op rekord geplaas het dat hulle gereed is om met die verhoor voort te gaan,” het Mamothame gesê.
Die verhoor sal na verwagting Dinsdag voortgaan.
Mamothame het gesê IDAC is dankbaar dat die saak uiteindelik na talle vertragings verhoor is.
