Die jare lange regsprobleme van die landboumaatskappy Bayer oor sy onkruiddoder Roundup is opnuut in die kollig nadat die moontlikheid op sy jaarvergadering geopper is dat die regskostes dalk die maatskappy kan verplig om die verkope te staak.
Bill Anderson, uitvoerende hoof, het die aandeelhouers meegedeel dat die maatskappy dalk weens die voortslepende regsoptredes in Amerika die punt gaan bereik waar hy noodgedwonge die verkope van hierdie baie belangrike produk sal moet staak.
“Dit is nie iets wat ons graag wil doen nie, maar ons moet vir alle gebeurlikhede voorsiening maak,” het hy gesê.
Bayer moet homself reeds jare verdedig teen skadevergoedingseise in Amerika omdat Roundup se aktiewe bestanddeel, glifosaat, glo kanker veroorsaak.
AFP berig dat Bayer, wat sy hoofkantoor in Leverkusen in Duitsland het, reeds meer as $10 miljard (R193 miljard) aan skikkings en hofsake in Amerika bestee het.
Anderson sê Bayer het hom daartoe verbind om die regsgedinge teen die einde van aanstaande jaar aansienlik te verminder.
In vorige hofsake in Amerika is bevind dat Roundup kanker kan veroorsaak en dat Monsanto, wat aanvanklik die onkruiddoder vervaardig het, nalatig was en nie verbruikers teen die gevare gewaarsku het nie. Bayer het Monsanto in 2018, en daarmee saam die regsprobleme, oorgeneem.
Anderson sê die maatskappy verdedig homself doelgerig in die hofsake. Bayer het ’n paar weke gelede Amerika se hoogste hof genader met ’n versoek dat die federale hofuitsprake hersien word op grond daarvan dat Amerikaanse boere duidelikheid oor die kwessie verdien.
“Die huidige posisie is nie ’n opsie nie en daar is baie op die spel vir ons en vir Amerikaanse boere.”
Bayer maak daarop aanspraak dat die uitsprake in Amerika in stryd met ’n oorweldigende hoeveelheid wetenskaplike bewyse en wêreldwye regulatoriese sowel as wetenskaplike ontledings oor die veiligheid van glifosaat is.
In vorige verklarings is daarop gewys dat die Europese Unie (EU) die gebruik van glifosaat aan die einde van 2023 goedgekeur het ná ’n baie lang en deeglike proses en te midde van groot druk deur aktiviste wat die produk se veiligheid bevraagteken het. Daar is onder meer na 1 500 studies en meer as 12 000 wetenskaplike artikels oor glifosaat gekyk.
Die maatskappy sê daar is al dekades lank konsensus onder die voorste gesondheidsowerhede oor die wêreld heen dat glifosaat volgens die instruksies op die etiket veilig gebruik kan word.
Geen regulerende owerheid het bevind dat glifosaat neuro-toksies is of kanker veroorsaak nie.
Landbou.com
