’n Nuwe geval van bek-en-klouseer is op 30 April in die Mogale-distriksmunisipaliteit by Krugersdorp aan die Wesrand bevestig.
Die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling sê in ’n verklaring die besmette dier is uit ’n ander provinsie afkomstig en is op ’n Gautengse veiling aangekoop.
Gauteng was vry verklaar van bek-en-klouseer sedert 13 Maart verlede jaar nadat geen nuwe gevalle van die siekte sedert Augustus 2022 voorgekom het nie. Al die uitbrekings in 2022, wat uit die voorkoms van die SAT3-virus voortgespruit het, was opgelos en gesluit.
Gauteng se veeartsenykundige dienste waarsku alle veeboere en veilingsagente om ekstra waaksaam te wees en sê waar vee uit verskillende gebiede op een plek byeengebring word, word die risiko vir die verspreiding van die siekte verhoog. Om dit te verhoed, moet die biosekerheidsriglyne, wat die landbouprodukte-agenteraad (Apac) opgestel het, streng nagekom word.
Daar word ook daarop gewys dat vereistes vir die vervoer van diere, wat op 7 Oktober 2022 in die Staatskoerant afgekondig is, nog nie opgehef is nie. Dit vereis onder meer dat die eienaar vir die vervoer van enige beeste, skape of bokke in besit van ’n verklaring oor die oorsprong en gesondheidstatus van die diere moet wees.
Daar moet ook ’n onderneming wees dat enige nuwe diere op ’n plaas eers vir 28 dae onder kwarantyn geplaas sal word voordat hulle deel van die kudde kan word. Vir diere om oor provinsiale grense vervoer te word, is ’n permit en gesondheidsertifikaat van ’n staatsveearts by die vertrekpunt nodig.
Gauteng se veeartsenykundige dienste sê hy verneem dat blanko gesondheidsverklarings by die hekke van die veilingskrale uitgedeel word, wat die eienaars, vervoerkontrakteurs en kopers dan sommer daar invul. Mense word gewaarsku dat die gesondheidsverklaring ’n regsdokument is en dat valse of onvolledige inligting tot vervolging kan lei.
Landbou.com
