Die departement van water en sanitasie het ’n aansoek vir die oordrag van ’n swart boer se waterregte na ’n wit boer afgekeur omdat die departement dié spesifieke regte ter wille van transformasie in die hande van voorheen benadeelde mense wil hou.
AfriForum se regspan appelleer by die watertribunaal teen dié beslissing en voer aan dat dit strydig met die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) is, asook op grond van hofuitsprake ingevolge waarvan die departement nie in die oorweging van so ’n aansoek net een faktor – in dié geval transformasie – in ag kan neem nie, maar ook ander wesenlike faktore in aanmerking moet neem.
Marais de Vaal, omgewingsraadgewer vir AfriForum, sê die swart boer het nie die waterregte nodig nie en wil dit verkoop, terwyl die wit boer dit nodig het om sy bedrywighede uit te brei.
Albei boere sal nou moet wag met enige planne wat van die oordrag afhang. De Vaal sê na verwagting kan dit tot twee jaar duur voordat die saak voor die tribunaal sal dien. Intussen gebruik die swart boer nie die water nie.
“Die ironie van die departement se paternalistiese houding jeens transformasie is dat ’n swart boer wat op grond van kommersiële oorwegings afstand wil doen van sy waterregte, verhoed word om sy vrye wil uit te oefen.”
De Vaal sê die wit boer wil sy boerdery uitbrei en die waterregte vir saaiboerdery onder besproeiing benut. “Die swart boer benut nie tans die waterregte vir sy eie boerdery nie, maar omdat die waterregte natuurlik geldwaarde het, maak dit vir hom kommersieel meer sin om sy waterregte te verkoop.”
AfriForum het saam met sy mediaverklaring oor sy appèl ook die departement se skriftelike kennisgewing oor sy besluit bekend gemaak. Hiervolgens is die swart boer se waterregte deel van spesifieke waterregte wat beskikbaar geraak het deur besparings en vir histories benadeelde mense geoormerk is.
Ander faktore móét ook in ag geneem word
Landbou.com het die prokureur en waterregkenner Adriaan Groenewald begin verlede jaar aangehaal in ’n berig, waarin hy sê artikel 27 van die Nasionale Waterwet bevat 11 faktore wat die minister in ag moet neem wanneer ’n lisensie-aansoek oorweeg word.
“Die appèlhof het in die bekende Goede Wellington-saak beslis dat ál dié faktore gesamentlik oorweeg moet word, en dat nie een, byvoorbeeld SEB, verhef moet word as belangriker as die res van die faktore of oorwegings nie,” het Groenewald gesê.
AfriForum sê dit blyk dat die departement met die afkeur van die swart boer se aansoek ander wesenlike faktore, wat hy wetlik verplig is om in die oorweging van die waterlisensie-aansoek te beoordeel, bloot verontagsaam het. Dit sluit onder meer in:
• of die water doeltreffend en tot voordeel van die openbare belang gebruik sal word;
• of die watergebruik maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling sal bevorder;
• of die watergebruik in ooreenstemming is met die toepaslike opvangsgebied se bestuursplan;
• die impak wat die watergebruik op die gehalte van die betrokke waterhulpbron sal hê; en
• die beleggings wat reeds deur die watergebruiker gemaak is om die water te gebruik.
“Geen van hierdie faktore is belangriker as enige van die ander nie, en derhalwe is ras nie ’n alleenstaande faktor nie,” sê AfriForum. “Deur ras tot die bepalende faktor te verhef, word gevolglik outomaties teen wit boere gediskrimineer.”
Francois Rossouw, uitvoerende hoof van die familieboere-netwerk Saai, sê in die verklaring dat die eng toepassing van die departement se rassebeleid nie bevorderlik vir die betekenisvolle regstelling van historiese rassediskriminasie in die landbou is nie. Dit benadeel die indiensneming van heeltydse en seisoenale swart werkers, asook die ontwikkeling van die plaaslike ekonomie en ondernemings in die waardeketting.
Vorige besluit omgekeer
Landbou.com het verlede jaar berig oor ’n saak waarin die departement die tydelike oordrag van ’n watergebruikslisensie op grond van ras afgekeur het, waarna AfriForum besluit het om die saak hof toe te neem. De Vaal sê die departement het sy besluit om die aansoek af te keur omgekeer voordat die saak na die hof is.
Lanbou.com – Carien Kruger