Die swendelaars, wat beweer dat hulle van die polisie is, stuur vir die slagoffer ‘n dokument met die foto van ‘n hooggeplaaste polisiebeampte en ‘n nabootsing van ‘n SAPD-aanstellingsertifikaat.
Die Sinoville Gemeenskapspolisieforum (GPF) het ’n dringende waarskuwing aan inwoners gerig ná berigte van swendelaars (scammers) wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen en geld via WhatsApp geëis het.
Volgens die GPF is daar onlangs ‘n klag by Sinoville SAPD ingedien waarby ‘n inwoner betrokke is wat ‘n vals lasbrief tot arrestasie en ‘n hofbevel vir batebeslaglegging ontvang het, wat na bewering verband hou met ‘n misdaad wat vermoedelik in Bloemfontein plaasgevind het.
Die swendelaars, wat beweer dat hulle van die polisie is, het vir die slagoffer ‘n dokument gestuur met die foto van ‘n hooggeplaaste polisiebeampte en ‘n nabootsing van ‘n SAPD-aanstellingsertifikaat.
Die slagoffer is aangesê om geld in ‘n SAPD-rekening te deponeer om arrestasie te vermy, ‘n kommerwekkende manipulasietaktiek wat kwesbare gemeenskapslede teiken.
Kaptein Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê die modus operandi verskil, maar niemand moet enige geld betaal nie.
“Die polisie reik geen lasbrief vir arrestasie uit nie, net die departement van justisie doen dit,” het Van Dyk gesê.
Hy het beklemtoon dat die SAPD nooit vir geld of bankbesonderhede via WhatsApp of enige informele kommunikasiekanaal sal vra nie.
Enige sodanige versoeke moet as bedrieglik beskou word en onmiddellik aangemeld word.
“Moenie reageer of enige persoonlike inligting deel nie, rapporteer die nommer by SAPD of die naaste polisiestasie, neem skermkiekies en dokumenteer die interaksie vir ondersoekdoeleindes en versprei bewusmaking binne die gemeenskap.”
Sinoville-inwoners word versoek om slegs op amptelike kommunikasie staat te maak en enige verdagte voorvalle aan te meld.
Kaptein Van Dyk het gesê die bedrogspul stem ooreen met die neiging wat misdadigers gebruik om mense te bedrieg deur die gebruik van Moot SAPD-speurders, wat kriminele sake teen slagoffers ondersoek.
“Hierdie misdadigers bel niksvermoedende burgers en stel hulself voor as Mej Samkelo Matheba van ICASA. Daar word aan die slagoffer gestel dat haar selfoon in ‘n bedrogsaak gebruik word om kliënte te bedrieg.
“Die slagoffers word deur die verdagte ingelig dat hulle haar kan help as sy skuldig pleit om die bystandsaanklaer te bel om haar te help om nie tronk toe te gaan nie, maar dit sal R10 000 kos,” sê Van Dyk.
Hy het gesê die foon is toe aan ‘n manlike verdagte oorhandig wat homself as sersant Sebongile voorgestel het. Volgens hom werk hy saam met sersant Makize van die Moot om die saak te ondersoek. Hulle is op pad om haar te kom arresteer, en sy moet bly waar sy is.
“Oningeligte burgers betaal die geld oor net om te besef dat hulle bedrieg is nadat hulle die Pretoria-Moot SAPD gebel het.
“Pretoria-Moot SAPD ervaar ‘n aansienlike toename in telefoonoproepe van slagoffers en potensiële slagoffers oor hierdie bedrogspul.”
Inwoners word aangeraai om indien enige persoon so ‘n oproep ontvang, ongeag die omstandighede, die polisiestasie by 012 331 3603 of 012 331 3598 te skakel.
Die publiek se aandag word daarop gevestig dat hulle onder geen omstandighede enige kommunikasie waar daar gevra word om geld oor te betaal, vertrou moet word nie. Dit maak nie saak wie die persoon sê hy/sy is nie – dit bly ‘n onbekende vreemdeling. Die beste raad is om vertragingstaktieke te gebruik:
- vra die telefoonnommer, maak seker u skryf die rang, volle name en van van die onbekende persoon neer. Bevestig u sal terugskakel.
- Moet NOOIT onder enige omstandighede u ID nommer mondeling bevestig nie. As die persoon werklik u inligting het, sal hulle dit aan u meld en die antwoord is kort en kragtig – “as jy my skakel en ek bevestig wie ek is, praat jy mos met die regte persoon”.
- Moet onder GEEN omstandighede enige persoonlike inligting verskaf nie – dit sluit in u bankbesonderhede, adres en selfs die bevestiging van u selnommer.
- As die persoon werklik ‘n polisiebeampte is, sal hulle dit aanvaar dat u hulle sal terugskakel!!! Moenie val vir dreigende houdings nie.
- Kontak u selfoonverskaffer en rapporteer die voorval.
- Kontak die betrokke SAPD stasie en vra om met die offisier(e) te praat. As hulle u so pas geskakel het, sal hulle mos daar wees.
Hierdie dringende waarskuwing is om u as leser bedag te maak op die oppurtunisme van swendelaars en u sal hulle oral vind. Ongelukkig is daar oral korrupte werkers wat inligting sal uitlek vir ‘n paar rand – dit is nie uitsluitlik beperk tot die SAPD nie.
Wees versigtig, wees paraat…ons leef in gevaarlike tye.
