’n Skietvoorval Dinsdag by die Wynberg-landdroshof het skokgolwe deur die regbank gestuur.
Die skietvoorval het net voor 11:00 plaasgevind. Die slagoffer het na bewering drie skietwonde aan sy kop opgedoen.
Volgens bronne het die vermeende skieters van ‘n wit Toyota Quantum afgeklim en toegang tot die hofgebou verkry.
Die slagoffer het buite die hofsaal in die voorportaal gesit, en die gewapende man het na hom gestap en verskeie skote afgevuur.
Die hofgange het in gille en chaos uitgebars toe mense binne ter wille van hul veiligheid op die grond geval het.
Die vermeende gewapende mans het van die toneel gevlug.
Die voorval is glo bendeverwant.
Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sers Wesley Twigg het die skietvoorval bevestig.
“Wynberg-polisie het ‘n moordsaak vir ondersoek geregistreer na ‘n skietvoorval by die hof in Kerkweg, Wynberg, op Dinsdag, 8 April 2025. Die slagoffer het skietwonde aan sy liggaam opgedoen en is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar,” het Twigg gesê.
Die polisie ondersoek nog die motief vir die aanval.
“Die motief vir die aanval vorm deel van die polisie-ondersoek, en arrestasies moet nog gemaak word,” het Twigg gesê.
Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting oor hierdie skietvoorval om asseblief Crime Stop by 08600 10111 te kontak of die mobiele toepassing MySAPS anoniem te gebruik.