Afrikaanse Nuus op SABC2 verdwyn eenvoudig — eise vir dringende verduideliking groei

Die Demokratiese Alliansie (DA) en AfriForum het die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) aangepor oor die verdwyning van die Afrikaanse nuussegment op SABC2.

“Die skielike verdwyning van die Afrikaanse nuusbulletin die afgelope naweek, sonder enige kommunikasie van die SAUK oor die redes agter hierdie besluit, is kommerwekkend. Die DA eis dat die SAUK onmiddellike verduideliking gee oor hoekom hierdie noodsaaklike diens gestaak is. Dit is van kardinale belang dat ons verstaan ​​of dit ‘n permanente verandering, ‘n eenmalige voorval, of iets anders is,” sê Willie Aucamp, nasionale woordvoerder van die DA.

Aucamp het verder gesê dat die DA aan die SAUK sal skryf om onmiddellik antwoorde oor hierdie onderwerp te kry en die uitsaaier sal vra om die Afrikaanse nuusbulletin so gou moontlik te herstel en te verseker dat alle Suid-Afrikaners, ongeag taalkeuse, steeds geloofwaardige en tydige nuus ontvang.

“Vir baie Suid-Afrikaners was die SAUK Nuus op SABC2, wat ‘n toegewyde gehoor van meer as 300 000 het, ‘n noodsaaklike bron van nuus en inligting. Al hierdie kykers moet vir hul TV-lisensies betaal, en dit is heeltemal onaanvaarbaar dat die SAUK so ‘n onverskilligheid teenoor so ‘n groot segment van die bevolking toon aangesien die openbare uitsaaiers ‘n taalgemeenskap het wat die SAUK moet bedien.”

Eweneens het AfriForum belowe om die SAUK aan te pak. In ’n brief wat aan die voorsitter, uitvoerende hoof en bestuur van die SAUK gestuur is, het AfriForum ’n verduideliking geëis.

“Toegang tot lewensbelangrike inligting in een van die amptelike tale van die land is die belangrikste rede vir die SAUK se bestaan,” het AfriForum se hoof van Kultuursake, Alana Bailey, gesê.

“Verder worstel die instelling die afgelope jare voortdurend met begrotingstekorte, en dit is dus onverstaanbaar dat Afrikaanse nuus, wat volgens ons inligting ’n sleutelbron van advertensie-inkomste is, sonder verduideliking aan skommelinge en weglatings van hierdie aard onderhewig is.

Sy het verder gesê Afrikaanse verbruikers is lojaal en finansieël sterk. “Sowat ‘n derde van die mark is Afrikaans. Dit maak dit nog meer onbegryplik dat die SAUK kies om hierdie mark te vervreem.

“Dit is die keuse om ‘n spreekwoordelike gans wat goue eiers lê dood te maak! Ons is uiters bekommerd oor die rol wat die openbare uitsaaier speel. Nie net Afrikaanssprekendes nie, maar ook sprekers van ander, kleiner taalgroepe in die land is lank reeds ontevrede met nuusbulletins wat op ongeleë tye uitgesaai word.”

Is ons as verbaas? Nee, media word al vir jare deur agter die skerms dikteer en hierdie is maar net nog ‘n “keel afsny” taktiek van die wat die toutjies trek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui