Vyf vermeende transitorowers wat gesoek is vir ‘n reeks kontant-in transitorooftogte in Natal, is Woensdagmiddag tydens ‘n skietgeveg met die polisie by Ridgeview naby Chesterville doodgeskiet.
Provinsiale polisiewoordvoerder, kolonel Robert Netshiunda, het gesê die verdagtes is gesoek vir ‘n rooftog wat Maandag, 31 Maart 2025 in KwaMashu plaasgevind het.
Netshiunda het gesê die polisie is besig met ‘n intelligensie-gedrewe operasie en het inligting ingesamel dat die verdagtes beplan om nog ‘n transitorooftog in die omgewing van die iLembe-distrik in die noordelike dele van Natal te pleeg.
“Die sigbaarheid van die polisie in die gebied het die verdagtes se sending versteur en die intelligensie eenheid het die verdagtes in Ridgeview opgespoor. Die polisie het die verdagtes se voertuig geïdentifiseer en toe hulle dit nader, het die verdagtes op die polisie losgebrand en ‘n skietgeveg het ontstaan,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat tydens die skietgeveg al vyf verdagtes op die toneel gesterf het en vier vuurwapens in hul besit gevind is.
“Die verdagtes was van die Gauteng-provinsie en een van hulle is glo ‘n “king pin” wat agter verskeie kontant-in transito-rooftogte regoor die land gesit het. Die operasie duur voort op soek na ander verdagtes,” het Netshiunda gesê.
Konstabel Thenjiswa Ngcobo het Maandag gesê die gewapende verdagtes het ‘n transitovoertuig aangeval en ‘n onbekende bedrag geld gesteel.
“Die wagte het ligte beserings opgedoen.”
Prem Balram, baas van die private sekuriteitsmaatskappy Reaction Unit South Africa (RUSA), het volgens berigte gesê dat verskeie swaargewapende verdagtes wat in twee voertuie gery het, die geldwa met geweld gestop het.
“Die verdagtes het springstof aan die voertuig geheg en dit in spitsverkeer laat ontplof. Die swaar gewapende mans het die veiligheidsbeamptes van hul vuurwapens beroof en ‘n onbekende bedrag kontant gesteel.
“Hulle het veelvuldige skote van hoëkaliber-wapens afgevuur voordat hulle in ’n wit Ford-sportnutsvoertuig en ’n silwer Toyota Corolla weggejaag het.”
Balram het gesê ‘n lid van Reaction Unit South Africa (RUSA) was op patrollie in die nabygeleë omgewing toe hy voertuie opgemerk het wat teenstroom op die M25 ry.
“‘n Motoris het die reaksiebeampte afgemerk en hom in kennis gestel van die rooftog wat aan die gang is. Die beampte het bykomende rugsteun versoek toe hy die toneel genader het.”
