‘n 28-jarige man, wat ‘n intern by die departement van vervoer in Nelspruit, Mpumalanga is, sal Donderdag in die Thohoyandou-landdroshof verskyn op aanklag van korrupsie.
Provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, brigadier Hlulani Mashaba, het gesê die intern is Woensdag in hegtenis geneem.
“Die provinsiale teenkorrupsie-eenheid in Limpopo het Dinsdag ‘n klag ontvang oor ‘n individu wat na bewering geld van slagoffers werf deur valslik aan hulle werk as verkeersbeamptes te belowe,” het Mashaba gesê.
“Die verdagte het glo afkoopgeld van R6 500 per persoon geëis in ruil daarvoor om vir hulle werk te verseker.”
Die saak is by die Limpopo provinsiale teenkorrupsie-eenheid aangemeld vir verdere ondersoek. ‘n Ondersoekdossier is op dieselfde dag geregistreer.
“‘n Klopjag is in die Thohoyandou-polisiëringsgebied geaktiveer. Tydens die operasie het die verdagte by die aangewese plek aangekom waar hy die slagoffers ontmoet het en betaling geëis het,” sê Mashaba.
“Met die ontvangs van die geld het die polisiespan hom dadelik genader en gearresteer. ‘n Bedrag van R2 000 is ten tyde van die arrestasie uit sy besit teruggekry.”
Die verdagte is toe by SAPD Thohoyandou aangehou.
Die saak word deur die provinsiale teenkorrupsie-eenheid in samewerking met die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek, ook bekend as die Valke, in Musina ondersoek.
Intussen het provinsiale polisiekommissaris Limpopo, luitenant-generaal Thembi Hadebe die multi-dissiplinêre spanne geloof vir die vinnige optrede om die 28-jarige man in hegtenis te neem.
“Die inhegtenisneming van hierdie verdagte dien as ‘n sterk waarskuwing dat korrupsie binne die geledere van wetstoepassing nie geduld sal word nie. Ons prys die speurders dat hulle korrupsie in al sy manifestasies stopgesit het,” het sy gesê.
Die polisie het gemeenskapslede regoor Limpopo versoek om alle elemente van korrupsie aan te meld.
