Joshlin Smith-verhoor : ‘Joshlin gesoek vir haar oë en vel’

Laurentia Lombaard getuig vir die derde dag in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Saldanha.

Verrigtinge het ‘n wankelrige begin aangesien tegniese probleme ondervind is, maar die situasie is binne minute opgelos.

Lombaard is sedert Donderdag in die gtuie bank en haar getuienis het skokgolwe deur die hof en die breër gemeenskap gestuur.

Jacquen ‘Boeta’ Appollis, Steveno van Rhyn en Joshlin se ma, Kelly Smith, staan ​​in Saldanha tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel. Die trio het skuld ontken op die aanklagte teen hulle.

Op die vraag of daar enige onderonsie tussen Lombaard se kêrel, Ayanda, en Boeta was teen die tyd dat die polisie op Maandag, 19 Februarie 2024 by haar huis aangekom het, het Lombaard ja getuig, aangesien haar kêrel gevra het hoekom hulle (Kelly en Boeta) die polisie na die huis sou bring.

Sy het ook aan die hof gesê sy het Kelly of Boeta sedert daardie voorval nie gesien nie.

Lombaard het gesê sy het Kelly die Vrydag na Joshlin se verdwyning gesien. Sy het Kelly naby haar huis sien stap en haar gebel. Sy het vir Lombaard gesê om nie haar naam te hard te noem nie aangesien sy weet mense soek haar.

“Ek het uitgegaan en na haar (Kelly) gegaan. Dit was Kelly, Boeta, ‘n dame en man, op pad na Kelly se huis. Kelly het by haar die huis ingegaan en my gevra om binne te kom. Ek het gevra waarna sy soek en haar ntwoord was sy soek haar seun se skoolklere, bankkaart en ID,” het Lombaard gesê.

Sy het verder getuig Kelly het nooit Joshlin se naam genoem nie, sy het net haar twee ander kinders genoem en die dokumentasie wat sy van hulle moes versamel.

Die hof het in dié tyd gehoor dit was toe net Kelly en Lombaard in die huis.

Kelly het gesê: “Renz, ek weet wat ek aan Joshlin gedoen het. Daar was iemand wat my betaal het om stil te bly.”

Lombaard het gesê sy het gevra wie haar betaal om stil te bly, maar Kelly het nooit die naam genoem nie.

“Sy het gesê die persoon wat na Joshlin gesoek het, soek haar omdat hulle haar [Joshlin se] oë en vel wou hê,” het Lombaard gesê.

Sy het Kelly verder gevra oor die betaling van R1 000 wat sy sou ontvang, maar dit nooit ontvang het nie.

Dit was ook die laaste keer dat sy Kelly op daardie dag gesien het.

Lombaard het gesê toe sy ’n verklaring aan die polisie gegee het, het sy hulle eers vertel van die Maandag toe Joshlin verdwyn het.

Sy beweer sy het hulle nie alles vertel nie aangesien sy destyds bang was.

Terwyl sy wel erken dat sy die waarheid van die polisie weerhou het, is Lombaard vasbeslote sy vertel die hof alles en “weerhou niks nie”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui