’n 71-jarige pensioenaris van Hastingslaan, Brakpan, lewe in vrees en kommer nadat ’n persoon verlede Maandagnag ’n petrolbom na sy voertuig geslinger en dit verwoes het.
Johan van der Merwe het die week in trane aan die Herald gesê dat hy nie weet watter kant toe nie.
“Daardie voertuig was ek en my siek vrou se hulpmiddel en al wat ons in ons naam het. “Nou kan ek haar nie eens meer by ’n hospitaal kry nie,” het ’n emosionele Johan vertel.
Johan vertel hy het sy vrou, Ria (69) verlede Maandagoggend na die Charlotte Maxeke Hospitaal in Johannesburg geneem vir ’n oog ondersoek.
“My vrou sukkel met haar gesondheid en is onder andere permanent op suurstof. Ons het eers laat die middag klaargekry met die oogtoetse en was nie betyds om haar medikasie by die hospitaal se apteek te kon kry nie.”
“Ek het vir haar gesê dat ek die volgende oggend (verlede Dinsdag) vroeg sou terugry om haar oogdruppels te kry.”
Volgens Johan het hy sy motor, ‘n 2006 Polo, onder die afdak by sy woonplek parkeer.
“Ek het dit nog vol brandstof gemaak vir my rit na die hospitaal die volgende dag en het my beursie met kontant en al my kaarte in die paneelkissie gelaat.
“Net voor middernag het ek wakker geskrik van ’n oorverdowende slag en dadelik uit die bed gespring. Toe ek die voordeur oopmaak was my kar reeds aan die brand en ek kon niks doen om die vlamme te blus of my beursie te red nie,” het Johan vertel.
“Bure het gepoog om die vlamme te blus en die brandweerdiens het ongeveer ’n uur later opgedaag maar dit was te laat om my kar te red.
“’n Suurstofsilinder, wat ek laat volmaak het vir my vrou, was ook op die agterste sitplek en ek is baie dankbaar dat dit nie ontplof het nie.”

“Ons was heeltemal afhanklik van daardie kar. Ek kon nie eens my vrou se oogdruppels gaan haal nie en moes dit noodgedwonge by ’n plaaslike apteek ten duurste gaan kry. Daarvoor het ek geld geleen.
“Ons bly al vier jaar in die blyplekkie en ek was nog nooit agterstallig met my huurgeld nie. Die huurgeld was ook in my beursie aangesien ek dit die volgende dag sou gaan betaal,” het Johan gesê.
“Ek weet nie watter kant toe nie. Ek en my vrou sien om na ons gestemde seun (50) en ons moet klaarkom met ‘n Sassa pensioen. Dit is al wat ons het en ons kon op ’n manier kop bo water hou, maar sonder die voertuig sal dit nou baie swaar gaan.”
Johan het genoem dat hy ’n sterk vermoede het wie die persoon is wat die petrolbom deur ’n palisade heining na sy kar geslinger het.
“Ek het die voorval by die SAPD aangemeld en my vermoede met hulle gedeel. Dit is nie die eerste keer dat ons teëspoed met die persoon gehad het nie. Ons is in die verlede telkemale gedreig maar nou het dit net te ver gegaan, het hy gesê.
“Daardie persoon het geen idee hoe groot die impak van sy daad op my en my gesin is nie.”
Die voorval word deur die Bakpan SAPD ondersoek.