Die tweede verdagte wat deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek, ook bekend as die Valke, aangekeer is nadat ‘n niksvermoedende vrou R3 miljoen aan ‘n aanlyn minnaar verloor het, het in die hof verskyn.
Die vrou wat “gescam” is, wie se identiteit weerhou word om haar teen verdere viktimisasie te beskerm, het geglo sy was betrokke by ‘n wit man genaamd “Mark Hermanus”. Sy het geglo sy leen die geld aan die persoon.
Thatohatsi Mavimbela, Gautengse woordvoerder van die Valke, het in ‘n opdatering gesê Justice Motsamai Khanyapa (38) het voor die Pretoria-landdroshof verskyn waar hy agter tralies aangehou is.
Die saak is tot Donderdag 13 Maart uitgestel vir formele borgtogaansoek.
Khanyapa is verlede week Woensdag deur lede van die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaad-ondersoekeenheid as die tweede verdagte in hegtenis geneem op aanklagte van diefstal en bedrog. DIe eerste beskuldigde, Nigeriese burger Gabriel Okori, se borgtog is verleng. Hy is in November verlede jaar op borgtog vrygelaat en hy verskyn al voor die Pretoriase hof op aanklagte van bedrog en diefstal.
“Die klaagster in die aangeleentheid voer aan dat sy wat sy gedink het ‘n wit man op Facebook was, met die naam van Mark Hermanus, ontmoet het. Die twee het selfoonnommers uitgeruil en op kitsboodskappe (Whatsapp) begin gesels,” het Mavimbela gesê.
“Terwyl die twee mekaar leer ken het, het ‘Mark Hermanus’ die klaer ingelig dat sy seun siek is en die klaer gevra om vir hom geld te leen vir sy seun se mediese rekeninge, wat tot meer as R3 miljoen gestyg het. Die verdagte het belowe om dit terug te betaal sodra hy al sy seun se mediese rekeninge betaal het en dit nooit gedoen het nie.”
Die klaagster in die saak, het verskeie bankrekeninge gekry om geld in te deponeer, waarvan een ‘n African Bank-rekening was wat aan Khanyapa behoort.
“’n Bedrag van R15 000 is deur die klaer na die genoemde bankrekening oorgeplaas,” het Mavimbela gesê.
Die saak is daarna by die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaad Ondersoekeenheid aangemeld, wat gelei het tot die inhegtenisneming van die eerste verdagte, Okori.
“Die Nigeriese burger is opgespoor en geïdentifiseer as Gabriel Okori, ‘n Nigeriese burger in Kaapstad op 3 Oktober 2024. In Oktober 2024 is borgtog van R5 000 aan Okori toegestaan,” het Mavimbela gesê.
Khanyapa is verlede week in Orange Farm, Johannesburg-Suid, in hegtenis geneem voordat hy sy eerste hofverskyning gemaak het.
Mense word weer eens gewaarsku teen die voortslepende gevaar van aanlyn “scamming”. Talle waarskuwings word voortdurend uitgereik waar mense daarteen gewaarsku word om persoonlike inligting aan vreemdes te verskaf. Dit sluit handtekeninge in, want dit is ook een van die “bewys van vetroue”wat in sommige gevalle gevra word deur die “scammer”.
Die wêreld van “scamming” is nie onbekend nie. Dit gebeur oral en onskuldige slagoffers word van honderde duisende rande beroof en die kanse is skraal dat sodanige slagoffer die fondse sal terugkry.
Wees versigtig!