Joshlin Smith-verhoor: “My kind Joshlin, het my beroemd gemaak”

Daar is ‘n groot verskil tussen ‘beroemd’ en ‘berug’. Die hooffokus is steeds die vermiste Joshlin Smith en die ma se woorde is skokkend.

Skokkende woorde word steeds in die Joshlin Smith-saak in wat al genoem is as een van die grootste sake in die Wes-Kaap, weergegee.

Tans in die getuiebank, het Saldanha SAPD se stasiebevelvoerder, luitenant-kolonel Lincoln Sebola gesê Kelly se houding het hom bekommer.

Sebola het verduidelik hoe die polisie na Joshlin gesoek het en hoe hy self soektogte gelei het.

Sebola het aan die hof gesê lede van die plaaslike SAPD, lede van die Openbare Orde Polisiëring, lede van die Seaboard-polisiëring (hawe van binnekoms), wetstoepassers, ses gemeenskapsleiers en ongeveer 120 lede van die gemeenskap het deelgeneem.

Soos die dae gevorder het, is die Stad Kaapstad se hulp ingeroep.

Altesaam 150 speurders regoor die provinsie was in die gebied, en altesaam 380 polisiebeamptes was betrokke by die soektog na Joshlin.

Hy het ook genoem dat Kelly die destydse minister van polisie, Bheki Cele, sou ontmoet. Hy het gesê dat hy twee keer met Kelly in gesprek was voordat sy Cele ontmoet het.

“Toe sy by die aanklagkantoor inkom, was sy besig om met ‘n SAPD-beampte te kommunikeer wat sy geken het. Sy het opgetree asof dit normaal is dat haar kind nie daar is nie. Wat my bekommer het, was toe sy in haar eie woorde gesê het: ‘My kind Joshlin het my beroemd gemaak’. Dit het my bekommerd gemaak. Veral as ‘n ouer,” het Sebola getuig.

Hy het verder meer inligting bekend gemaak wat regter Nathan Erasmus sy wenkbroue laat lig het. Sebola het gesê hulle het verblyf vir Kelly in Vredenburg gekry voordat sy Cele ontmoet het.

Sy het egter nie van die verblyf gehou nie.

“Sy het nie daarvan gehou nie, want haar kêrel kon nie saamgaan nie. Ons het toe haar verblyf in Diazville by ‘n lid van die gemeenskap gekry waar sy by haar kêrel kon bly.

“Ons moes lede buite laat stasioneer vir veiligheid omdat die gemeenskap kwaad was,” het hy gesê.

Op ’n vraag oor Kelly se ander kinders, het Sebola gesê: “Die kinders was nie by haar nie. Sy het nooit vir verblyf vir haar kinders gevra nie.”

Regter Erasmus het duidelikheid gesoek en gevra: ‘So, daar was geen kommer of ‘n versoek om haar ander twee kinders (11 en twee jaar oud) by haar te hê nie, maar haar kêrel?

Sebola het geantwoord: “Korrek”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui