Die soektog na ‘n gewapende bende ná transitorooftog aan Natalse noordkus is aan

Volgens Kyle van Reenen van Ensure Security het verskeie gewapende verdagtes die voertuig Maandag op die R74 naby Stanger aan die Natalse-noordkus in ‘n lokval oorval.

Daar word beweer dat die verdagtes op die CIT-voertuig losgebrand het en een sekuriteitsbeampte het ‘n enkele skietwond opgedoen. Die bende het springstof gebruik om toegang tot die kontant te kry.

“Die tweede beampte het matige beserings tydens die voorval opgedoen. Albei beamptes is na ‘n fasiliteit afgevoer onder die sorg van IPSS Medical Rescue Advanced Life Support paramedici,” het Samantha Meyrick van IPSS Medical Rescue gesê.

Die pad was vir verkeer gesluit terwyl die polisie en ondersoekspanne die toneel gefynkam het.

Dit is die tweede transito-rooftog aan die KZN-noordkus binne ‘n paar dae.

Daar was ‘n CIT-rooftog Saterdag op die R102 tussen Mandeni en Gingindlovu. Meyrick sê gewapende verdagtes het op ‘n CIT-voertuig en ‘n begeleidingsvoertuig losgebrand en die begeleidingsvoertuig van die pad af gedwing voordat hulle plofstof gebruik het om toegang tot die agterkant van die CIT-voertuig te verkry.

“Die verdagtes het met ‘n onbekende bedrag kontant en gesteelde vuurwapens ontsnap. Twee sekuriteitsbeamptes van die begeleidingsvoertuig het geringe beserings opgedoen en is na ‘n nabygeleë fasiliteit afgevoer vir verdere sorg deur IPSS Medical Rescue,” het sy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui