Ernst Roets bedank uit Solidariteit en Afriforum – ‘n saak wat al lank broei

Ernst Roets, die beleidshoof by die Solidariteit Beweging en voormalige AfriForum-adjunk uitvoerende hoof, het bedank om “groter bydraes buite die beweging na te streef”.

Roets is al 20 jaar by die Solidariteit Beweging betrokke en sy besluit om dit te verlaat was omdat hy oortuig geraak het daar is “meer ruimte” om buite die beweging by te dra.

“Ek het oortuig geraak dat daar meer ruimte vir my buite is om my roeping uit te leef en werklik iets vir ons mense te beteken – dat ek ’n groter bydrae sal kan maak.

“Ek het die afgelope paar weke weer besef hoe ongelooflik my vrou en kinders, my familie en my goeie vriende is. Ek word oorweldig deur ‘n gevoel van dankbaarheid, meer as enigiets anders. My opgewondenheid oor die hoofstuk wat voorlê is baie groter as die hartseer oor die hoofstuk wat ek afsluit,” het hy gesê.

Hy het die Solidariteit Beweging, veral AfriForum, bedank vir die geleenthede wat hy gekry het en sy leiers alle sterkte toegewens met die “groot taak wat op hul skouers rus”.

Roets is in Augustus 2023 as beleidshoof van die beweging aangestel nadat hy as AfriForum se uitvoerende hoof vir strategie en internasionale betrekkinge gedien het. Hy het die 2018-boek Kill The Boer geskryf waarin hy beweer politici en die regering was aandadig aan die toename in plaasmoorde. Dit is glo ook aangehits deur die sing van die struggle-lied Kill the Boer.

Roets se bedanking kom terwyl AfriForum en sy vennote gekritiseer word omdat hulle na bewering verkeerde inligting versprei het aan die VSA om as verskoning te gebruik om by die land se beleid in te gryp. Daar word beweer dat hul veldtog die Amerikaanse president Donald Trump beïnvloed het om MIV-befondsingshulp te staak terwyl hulle Afrikaners genooi het om by die VSA aansoek te doen vir vlugtelingstatus.

Maar AfriForum het die vlugtelingaanbod van die hand gewys en gesê Afrikaners wil in die land bly.

Intussen het die MK Party en die Swart Forum SA gevra dat AfriForum van hoogverraad aangekla word vir die “verspreiding van verkeerde inligting” oor die nuutgetekende Onteieningswet.

TimesLive

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui