‘n Winkeleienaar in Middelburg is vasgetrek in ‘n klopjag nadat die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek, algemeen bekend as die Valke, ‘n massiewe voorraad onwettige sigarette ter waarde van R3,4 miljoen ontdek het.
’n 40-jarige Indiër het Dinsdag in die Middelburg-landdroshof verskyn nadat hy met die onwettige sigarette betrap is, het luitenant-kolonel Magonseni Nkosi, Mpumalanga-polisiewoordvoerder, gesê.
“Lede het die inligting geoperasionaliseer, wat gelei het tot die arrestasie van die verdagte. Ongeoorloofde sigarette met ‘n geraamde waarde van R3,4 miljoen is teruggevind,” het Nkosi gesê.
Die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaad-ondersoekeenheid, saam met die SAID Doeane, het by die ondersoek aangesluit om die oorsprong van die besending op te spoor en te bepaal hoe dit die land binnegekom het.
Die amptenare van die departement van binnelandse sake sal ook die verdagte se immigrasiestatus ondersoek.
Nico Gerber, hoof van die Valke in Mpumalanga, het teen die gevare van onwettige sigarette gewaarsku en die skadelike inhoud daarvan en die ekonomiese impak van belastingontduiking uitgelig.
“Hierdie sigarette bevat skadelike stowwe, insluitend hoë vlakke van teer, nikotien en ander giftige chemikalieë. As sulke sigarette die land binne gesmokkel word, beïnvloed dit die ekonomie negatief aangesien smokkelaars belasting en regulasies ontduik,” het Gerber gesê.
