ActionSA het aan Dada Morero, burgemeester van Johannesburg en Kenny Kunene, MMC, geskryf en gevra om antwoorde te gee oor die toekenning van ‘n tender van R194 miljoen aan ‘n Nigeriese-verwante maatskappy, Korone Engineering om Lilian Ngoyistraat (voorheen Breestraat) reg te maak.
ActionSA het tydens sy onlangse toesigbesoek aan die Lilian Ngoyi (voorheen Breestraat)-konstruksieterrein gesê hy het ontdek dat Korone Engineering deur ‘n Suid-Afrikaner in vennootskap met ‘n Nigeries-gebore ingenieur besit word.
Dieselfde kontrak is voorheen aan ‘n maatskappy sonder belastingklaring toegeken. Met verdere ondersoek is later vasgestel dat dié maatskappy deur Zimbabwiese burgers bestuur word.
“ActionSA is diep bekommerd oor hierdie herhalende patroon, wat blykbaar die belange van buitelandse burgers bo dié van Suid-Afrikaners prioritiseer,” het ActionSA gesê.
Die party het ‘n beroep op die Stad Johannesburg gedoen om Suid-Afrikaners in alle verkrygingsprosesse te prioritiseer.
ActionSA se vrae is of behoorlike omsigtigheid in die keuringsproses van die maatskappy gedoen is, of behoorlike verkrygingsprosesse gevolg is, of maatreëls ingestel is om deursigtigheid in tendertoekennings te verseker, en ook of daar opgetree is teen die bewerings.
Morero is verlede jaar gekritiseer vir sy voorstel dat hy wettig gedokumenteerde buitelandse burgers vir die Johannesburgse Metropolitaanse Polisiedepartement (JMPD) wil aanstel as ‘n misdaadbestrydingsmaatreël.
Hy het toe om verskoning gevra en sy voorstel teruggetrek nadat sy party, die ANC, ook nie die idee onderteun het nie.
Kunene is ook vir kommentaar genader maar tevergeefs.
In reaksie op Kunene se steun op X het die Patriotic Alliance (PA)-leier Gayton McKenzie gesê hy weet niks van die huidige aanstelling nie.
“Al wat ek weet is dat ‘n voorheen aangestelde maatskappy Zimbabwiërs was, en ek word meegedeel dat hulle verwyder is. Die PA sal antwoorde oor hierdie aangeleentheid eis en sal terugkom. Ons sal dit nooit toelaat nie. Kunene kry vir ons die antwoorde van amptenare,” het hy gesê.
In ‘n ander twiet wat bevraagteken het of Kunene dalk die R194 miljoen goedgekeur het, het McKenzie gesê: “MMC’s keur nie tenders goed nie, maar hulle speel ‘n oorsigrol, daardie toesigrol is nou broodnodig Kunene, geen Nigeriërs moet tenders in SA kry nie.”
Die straat is sedert Julie 2023 gesluit, ná ‘n verwoestende gasontploffing wat die lewens van meer as 15 mense geëis het en ander beseer gelaat het toe dit die sleutelroete na die SSK opgeskeur het.
Morero het die Stad se verbintenis tot die voltooiïng van die projek herbevestig en gesê: “Ons wil aan die mense van Johannesburg in Augustus 2025 bevestig dat die pad funksioneel sal wees en alle motoriste sal die pad gebruik.”
“Ons hoop dat ons die finale produk met die begroting sal lewer en nie die koste sal verhoog nie,” het Morero gesê.
Hy het gesê die voltooiing van die eerste stroom van die projek sal in Augustus 2025 wees.