Pollsmoor ontsnapte is weer agter tralies

Yanga Wayithi (35), wat uit Pollsmoor-gevangenis ontsnap het, is veilig terug agter tralies. Wayithi dien ‘n ses maande vonnis vir diefstal en betreding uit en is deel van diegene wat die fasiliteit se gronde in stand hou.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder vir korrektiewe dienste, het aan Nuusflits bevestig Wayithi is omstreeks 01:30 vanoggend (Woensdag) weer in hegtenis geneem. ‘n Volskaalse soektog is geloods en Wayithi sal nou addisioneel vir ontsnapping vanuit wettige aanhouding aangekla word.

Makgothi Thobakgale, die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, het die vinnige optrede deur wetstoepassingsowerhede en beamptes wat met die herinhegtenisneming betrokke was, geprys.

““Hierdie arrestasie bevestig weer ons verbintenis tot die handhawing van die integriteit van die korrektiewe stelsel. Ons bly vasbeslote om te verseker dat alle oortreders aanspreeklik gehou word en openbare veiligheid bly ons topprioriteit,” het Makgothi Thobakgale, die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste gesê.

‘n Ondersoek word gedoen na die omstandighede van die ontsnapping.

“Toepaslike maatreëls sal getref word teen enige foute wat geïdentifiseer is. Daarbenewens, word sekuriteitprotokol by Pollsmoor Korrektiewe Sentrum hersien om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom,” sê Nxumalo.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui