Kindermoord maak minder saak: moordenaar ma se vonnis verminder

’n Ma wat haar 3-jarige dogter vermoor het en wat oor ’n lang tyd so erg deur haar ouers gemartel is en wat uiteindelik gesterf het toe haar ma haar ’n hou op die kop gegee het, het ’n reddingsboei gekry toe die hof haar lewenslange tronkstraf tot een van 15 jaar verminder het.

Drie regters van die Gautengse hooggeregshof het gesê hoewel hulle nie goedgekeur het wat die ma aan haar kind gedoen het nie, het die regter wat haar in 2019 gevonnis het, versuim om te staaf hoekom hy die maksimum vonnis opgelê het.

Welmarie Smith, wat 39 was toe sy gevonnis is, het toe ook ‘n verdere 25 jaar tronkstraf gekry vir die langdurige aanranding van haar dogter.

Na die ma se appèl het die hof dit nou vervang met ‘n vonnis van vyf jaar en gesê 25 jaar vir aanranding was heeltemal buite verhouding.

Haar voormalige man en pa van die vermoorde dogtertjie, Willem Smith, is skuldig bevind aan die aanranding van die kind en hy het ook 25 jaar tronkstraf hiervoor ontvang. Hy is nie skuldig bevind aan haar moord nie aangesien hy nie tuis was die dag toe sy gesterf het nie.

Regter Collis, wat die appèluitspraak geskryf het, het opgemerk dat dit nie bekend is of hy ooit appèl teen sy vonnis aangeteken het nie, maar sy het gesê indien nie, moet hy aangeraai word om dit te doen.

Terwyl die pa, ‘n ketelmaker, nie by hul destydse Springs-woonstel was op die dag die 3-jarige se dood nie, het regter Bert Bam bevind dat hy die dogtertjie ook oor ‘n tydperk aangerand het.

Daar is gevind dat die kind gesterf het ná ‘n laaste hou wat die ma haar op haar voorkop toegedien het. Die ma het beweer die kind het uit haar bed geval, maar die hof het dit verwerp. Die ma het ook beweer dat die pa ‘n Marmite-bottel na die kind gegooi het, wat voorheen haar kop getref het en tot haar dood kon bygedra het.

Toe die paramedici die dogtertjie by die huis gaan haal het nadat sy dood is, het hulle verskeie aanrandingsmerke sowel as sigaretbrandwonde oor haar lyf opgemerk.

’n Patoloog het aan die hof gesê die kind, wat 12 kg geweeg het toe sy dood is, was uitgeteer en het 18 verskillende wonde en kneusplekke aan haar lyf gehad. Sy het ook ‘n beenbreuk gehad wat sy iewers voor haar dood opgedoen het en waarvoor sy nooit behandel is nie.

Nie die ma van die dogtertjie of haar man, van wie sy nou geskei is, het tot die einde toe erken dat hulle die kind aangerand het nie.

Regter Bam het in die vonnisoplegging opgemerk dat dit een van die ergste gevalle van kindermishandeling is wat hy nog gesien het. “Hulle het haar in werklikheid oor ‘n lang tydperk gemartel,” het hy gesê. Die regter het verder opgemerk dat dit “suiwer bose” gedrag deur die ouers was.

“Dit is onbegryplik hoe ouers dit aan hul eie vlees en bloed kan doen. Dit is ‘n bose daad. Daar is geen twyfel dat hierdie klein, weerlose kindjie erg gely het nie. Hierdie saak is een van die ergste voorbeelde van marteling en mishandeling van ‘n kind,” het hy gesê.

Maar op appèl het die ma gesê die regter het nooit die versagtende faktore in ag geneem nie – naamlik dat die verhoor eers 12 jaar ná die voorval begin het en die feit dat sy sedert haar dogter se dood ’n goeie ma vir haar ander kinders was.

Oor die vermindering van die vonnis het regter Collis gesê dit moet nie verkeerd vertolk word nie dat die hof nie die erns en voorkoms van hierdie tipe misdade besef nie. Sy het gesê die hof is bewus van die feit dat die ma, as die kind se opsigter, vir haar welstand verantwoordelik was.

Maar, het sy gesê, die regter het versuim om redes te gee waarom hy die uiteindelike vonnisse oor die ma uitgespreek het.

Ongelukkig kan die dooies en kindertjies nie praat nie en die stemme vir geregtigheid vir mishandelde kinders word weer eens misken.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui