Twee mans, wat vermoedelik in Desember uit die Mosambiekse tronk ontsnap het, is in Mpumalanga gearresteer

Twee Mosambiekse burgers, wat vermoedelik deel is van die groep wat in Desember uit ‘n Maputo-gevangenis ontsnap het, is in Mpumalanga in hegtenis geneem.

Meer as 1 500 gevangenes het uit die tronk in die naburige Mosambiek ontsnap tydens die voortdurende politieke onstabiliteit en wydverspreide betogings wat destyds in die land ervaar is, ná betwiste verkiesingsuitslae.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het vandeesweek gesê die twee mans, onderskeidelik 25 en 33 jaar oud, is Sondagaand deur die veiligheidsmaatskappy Polsec, by Malelane, gearresteer.

“Die twee manlike verdagtes is deur veiligheidsbeamptes vasgetrek ná vermoede dat hulle nie dokumentasie het om in die land te wees nie,” het brigadier Donald Mdhluli, Mpumalanga provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

“Die SAPD-lede en ander rolspelers soos die departement van binnelandse sake is aan boord gebring. Nadat bekragtiging gedoen is, is die twee van die oortreding van die Immigrasiewet van Suid-Afrika aangekla.”

“Voorlopige ondersoek deur die polisie dui daarop dat die twee mans glo deel is van die groep wat ‘n paar weke gelede onlangs uit wettige aanhouding in Mosambiek ontsnap het. In gevalle soos hierdie werk die SAPD saam met verskeie belanghebbendes, beide intern en ekstern, insluitend misdaadintelligensie, die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Hawks), Interpol, en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco),” het Mdhluli gesê.

Die polisie het gesê verdere besonderhede oor die saak sal mettertyd deurgegee word. Ondersoeke is nog aan die gang.

Die twee verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Intussen het waarnemende provinsiale kommissaris van polisie in Mpumalanga, generaal-majoor Zeph Mkhwanazi die verskillende wetstoepassingsagentskappe geprys wat die twee verdagtes aangekeer het.

“Die waaksaamheid en toewyding wat ons wetstoepassers aan die dag lê, is van kardinale belang en prysenswaardig. Ons is trots op hierdie vennootskap en verbintenis om te verseker dat elemente van misdaad holisties hanteer word deur alle belanghebbendes met die verstandhouding dat die uitskakeling van misdaad deelname van elke sektor vereis,” het Mkhwanazi gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui