R1 miljoen in ‘n drom gevind tydens klopjag deur die Valke

’n 52-jarige Oos-Kapenaar wat op aanklag van identiteitsbedrog in hegtenis geneem is, is borgtog van R5 000 toegestaan.

Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (bekend as die Valke) het gesê hulle het Saterdag 25 Januarie 2025 geld, bankkaarte en lewendige ammunisie by Siphetho Ntaka se huis in die Nomadolo-lokasie in Ngqeleni gevind en daarop beslag gelê.

Luitenant-kolonel Avele Fumba, woordvoerder van die Oos-Kaapse Valke, het gesê die polisie het ‘n wenk ontvang dat Ntaka na bewering in besit van lewendige rondtes ammunisie was.

“ ’n Klopjag is uitgevoer en toe die verdagte se woning deursoek is, het die span glo ’n blou plastiekdrom met meer as R1 miljoen kontant, 57 Sassa- en Easypay-bankkaarte, 13 slim ID-kaarte, 22 groen ID-boeke, 32 bankkaarte van verskeie finansiële instellings en 26 lewendige rondtes ammunisie.”

Die verdagte is gearresteer en aangekla van oortredings van die Nasionale Kredietwet, Identifikasiewet, Maatskaplike Bystandswet en die onwettige besit van lewendige ammunisie.

Hy het Maandag in die Mthatha Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof verskyn en is op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Die saak is tot 12 Februarie 2025 uitgestel vir verdere ondersoek.

Die provinsiale hoof van die Valke, generaal-majoor Mboiki Obed Ngwenya het die spanne geprys vir die arrestasie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui