Die redes waarom ons belydenis in Jesus Christus kosbaar is

“As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.” (Rom 10:9)

Ons weet dat Hebreërs 11:2 sê: “Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur God geskep is”.

Dit is oneindig makliker is om te glo dat God die wêreld geskep het as dat dit sommer lukraak ontstaan het. Die getuienis is oorweldigend vir ’n skeppende God. Maar, gaan die Hebreërskrywer verder “As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek beloon. (Hebr. 11:6). Maar waarom ons geloof dan bely?

1. Die belydenis is in die bloed van baie martelare geskryf.

a. Hoekom is Jesus vermoor? Omdat hy soveel goeie werke gedoen het? Omdat hy groot skares gelok het? Omdat hy kragtige preke gelewer het? NEE. Jesus is veroordeel omdat Hy bely het dat Hy die seun van God is. (Lukas 22:70)

b. Hoekom is Stefanis gestenig? Sy toehoorders kon nog alles van sy preek (met moeite) verdra totdat hy gesê het “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.” (Hand 7:56)

c. Hoekom is die eerste kerk vervolg? Omdat hulle bely het dat “Jesus die Here is” en dat hullle nie die gode van hul tyd en die keiser as god erken het nie.

d. Hoekom is die christene deur die Rooms Katolieke kerk vervolg na die hervorming? Omdat hulle bely het dat net Jesus die Verlosser is en dat niemand anders vir Hom kan instaan of tussenganger kan wees nie.

e. Hoekom word christene vandag nog gedood en vervolg? Net een rede: Hulle bely: “Jesus is die Here!”

2. Die inhoud van ons belydenis is Jesus Christus, Seun van God. Ons belydenis teenoor die wêreld gaan net oor ons God. Dit gaan nie oor maatskaplike gebeure of toestande nie. Dit gaan nie oor filosofië nie. Die Skrif sê:

a. “Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely.” (Matt 24:9)

b. “Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.” (Joh. 15:21)

c. “So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.” (Rom 14:11)

3. Ons belydenis is tydloos. “Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.” (Hebr. 10:12-14) Hieruit is dit duidelik dat die versoening vir ons sondes eenmaal en finaal gebring is. Daar kan niks bygevoeg of verander word nie. Daarom kan ons nie ons belydenis sommer net verander om by die gier van die dag te pas nie! Net soos die geskape Woord van God voltooi is met die skepping van die eerste mens, Adam, net so is die geskrewe Woord van God voltooi met die nuwe Testament, met die tweede Adam, Jesus Christus. Daar is niks meer nodig vir ons saligheid en om tot eer van God te lewe nie.

Met bogenoemde in gedagte kry Paulus se woorde in Rom 10 nuwe betekenis – “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.” (Rom 10:9) Met die belydenis kom die geloof van die hart tot uiting as ’n getuienis in die wêreld. (Hand 1:8)

Thys Maree (https://www.facebook.com/thys.maree.1)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui