ʼn Bejaarde egpaar is vroeg Dinsdagoggend deur ʼn gewapende man in Challenge-rylaan, Plettenbergbaai aangeval.
Kringtelevisie-beeldmateriaal van kameras in die omgewing wys hoe die 70-jarige vrou en 73-jarige man doodluiters in die straat afstap voordat ʼn man hulle met ʼn voorwerp wat soos ʼn panga lyk, oorrompel.
Die video het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei en wys hoe die egpaar moedig terugveg teen die aanvaller wat die vrou se handsak probeer gryp. Die aanvaller raak toenemend aggressief en kap hulle herhaaldelik met die wapen.
“Luidens berigte het die egpaar in die straat gestap toe die man hulle skielik van agter aanval. Die egpaar het terugbaklei, waarna die aanvaller later die egpaar se hoede gegryp en van die toneel gevlug het.”
“Die beseerde slagoffers is oomblikke later in ʼn private voertuig na ʼn nabygeleë hospitaal vir mediese behandeling geneem.”
Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, sê die polisie ondersoek ʼn saak van roof met verswarende omstandighede.
‘n Beloning van R10 000 word aangebied vir enige inligting wat tot suksesvolle in hegtenisneming en vervolging van die misdadiger sal lei.
Otto Olivier, operasionele bestuurder van misdaadvoorkomingsvereniging versoek die publiek om met die geringste inligting na vore te kom. “Ons glo daar is iemand wat weet wie verantwoordelik is.”
https://twitter.com/VehicleTrackerz/status/1879331132979986720