Die voormalige intelligensiebaas dr. Niël Barnard is Maandagoggend in die ouderdom van 75 in Gansbaai oorlede ná ʼn lang stryd teen kanker.
Lukas Daniel Barnard (gebore 1949), bekend as Niël Barnard, is ‘n voormalige hoof van Suid-Afrika se Nasionale Intelligensiediens en was bekend vir sy rol agter die skerms in die voorbereiding van oudpresident Nelson Mandela en voormalige Suid-Afrikaanse presidente P.W. Botha en F. W. de Klerk vir Mandela se uiteindelike en, soos hy dit gesien het, onvermydelike, vrylating uit die tronk en toetrede tot politieke mag.
In die nasleep van die Info-skandaal waarin die Buro vir Staatsveiligheid vasgeval het, het P.W. Botha Barnard, ‘n professor in die politieke wetenskap, in November 1979 aangestel om ‘n nuwe intelligensiediens te stig. Hy het by die Departement van Nasionale Veiligheid begin as Hoof Adjunksekretaris op 3 Desember 1979. Die Departement van Nasionale Veiligheid was die nuwe naam van die Buro vir Staatsveiligheid en is in September 1978 herdoop ná die aftrede van sy hoof Hendrik van den Berg in Junie 1978. Die Nasionale Intelligensiediens het in 1980 in werking getree en Barnard het die pos tot in 1992 beklee.
In 1994 het Barnard ‘n pos in die Departement van Grondwetlike Ontwikkeling en Provinsiale Sake onder Roelf Meyer in die Regering van Nasionale Eenheid oorgeneem. Dit was hierdie kernlogika wat die uiteindelike rol gedefinieër het wat Barnard moes speel in die skep van die politieke klimaat agter die skerms vir die Konvensie vir ‘n Demokratiese Suid-Afrika (KODESA) wat uiteindelik die grondwet opgestel het wat die oorgang na demokrasie in 1994 ondersteun het.
“Hy was ʼn vertroueling van vele staatsmanne, maar eerstens ’n gesinsman,” sê Jan-Jan Joubert, die familie se woordvoerder.
“As sodanig was hy en ʼn kollega die eerste twee verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse staat wat te midde van groot geheimhouding in Switserland met die ANC (soos verteenwoordig deur die latere presidente Thabo Mbeki en Jacob Zuma) kontak gemaak het oor onderhandeling.”
Barnard word onthou as die eerste onderhandelaar aan die regering se kant vir ʼn demokratiese Suid-Afrika en die Wes-Kaap se eerste direkteur-generaal.
Joubert bestempel hom as “die grondlegger van die streng en skoon administrasie” wat die Wes-Kaap vandag steeds kenmerk.
Barnard word oorleef deur sy vrou, Engela, twee seuns en vyf kleinkinders.