Die liggaam van Piet Bester (63), oudlanddros en voormalige vaskopstut vir die Vrystaat en Griekwas, is Sondag in ’n plas bloed op sy kleinhoewe by Glen buite Bloemfontein gevind.
Volgens kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, het ’n werker omstreeks 09:00 op Bester se liggaam afgekom. Hy het glo veelvuldige beserings opgedoen. Dit is in dié stadium onbekend wat presies gebeur het.
Earle het bevestig dat twee verdagtes reeds in verband met die moord in hegtenis geneem is danksy die noue samewerking en vinnige optrede van die plaaslike boeregemeenskap en polisie. Kaptein Earle het die gemeenskap bedank vir hul voortgesette ondersteuning en vinnige optrede saam met die polisie tydens ‘n noodgeval.
Bester het in sy jonger dae meer as 50 wedstryde vir die Vrystaat en later ook vir Griekwas gespeel. Hy was ook deel van die Junior Springbokspan wat in 1992 teen die All Blacks gespeel het.
Hy het egter sy rugbyloopbaan destyds laat vaar en hom eerder op ʼn regsloopbaan toe te spits. Bester was ‘n legende by die Bloemfontein-landdroshof, voor wie menige verdagte ‘n eerste hofverskyning gemaak het.
“Die polisie se ondersoeke duur voort en die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.”
Enigiemand met relevante inligting word gevra om kol. Ben Bolsiek by 082 466 8530 te skakel.
Toks van der Linde sê: ” Slegte nuus, nou verneem Piet Bester, voormalige Cheetahs-stut, naby Glen op plot vermoor. RIV OU SPANMAAT, SJOE, HOE TRAGIES.”