Wes-Kaap landbougemeenskap is woedend na die plaasaanval op ‘n egpaar van Stellenbosch

“Ons is geskok en uiters bekommerd oor die gevolge van hierdie gruweldade.”

Die wrede plaasaanval waarin ʼn egpaar op ʼn plaas naby die R44-pad buite Stellenbosch ernstig beseer is, het die landbougemeenskap in die Wes-Kaap woedend.

Die 62-jarige vrou het omstreeks 04:00 wakker geskrik toe sy twee onbekende mans in hul slaapkamer sien. Die aanvallers se gesigte was met maskers bedek en hulle het geld geëis.

Een van die mans het glo ʼn koevoet gehad en traangas in die vrou se gesig gespuit. Hy het haar daarna met die koevoet aan haar bolyf aangerand. Haar 63-jarige man is ook aangeval.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die voorval is ʼn herbevestiging van die voortdurende risiko’s wat die landbougemeenskap in die gesig staar.

“Plaasaanvalle en geweldsmisdade raak nie net die direkte slagoffers nie, maar ook plaaswerkers, hul gesinne en die groter gemeenskap.

Die organisasie het sy frustrasie uitgespreek oor wat as ʼn gebrekkige reaksie van die owerhede beskou word. “Ons moet onsself afvra: Is daar nog vertroue in die polisie en die regstelsel?” sê Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri Wes-Kaap se landelike veiligheid.

“Ons sien keer op keer dat verdagtes óf nie aangekla word nie, óf dat hulle nie behoorlik aanspreeklik gehou word nie. Die gebrek aan gevolge stuur ʼn boodskap dat sulke gedrag aanvaarbaar is – iets wat ons as ʼn land nie kan bekostig nie.”

Volgens Van der Westhuijzen is die situasie onhoudbaar. “Slaag die rolspelers wat verantwoordelik is vir die vervolging van misdadigers werklik in hul taak? Ondoeltreffende vervolging en swak strafoplegging gee aan misdadigers vrypas om met hul gruweldade voort te gaan.

“Dit is onaanvaarbaar. Ons produsente en landelike gemeenskappe verdien beter beskerming en geregtigheid as dit.”

Agri Wes-Kaap het ʼn beroep op die regering gedoen om daadwerklik op te tree en het benadruk dat hy sal aanhou om ʼn stem vir die landbougemeenskap te wees.

“Ons benodig sterker polisieteenwoordigheid in landelike gebiede en vinniger reaksietye om sulke misdade te voorkom,” sê Strydom.

“Die regstelsel moet verseker dat verdagtes vinnig aangekla word en dat strawwe as ʼn afskrikmiddel vir voornemende misdadigers dien. Verder is dit noodsaaklik dat owerhede nouer met landelike gemeenskappe saamwerk om proaktiewe misdaadbekamping te verseker.”

“Ons dring daarop aan dat die regering en die regstelsel hul grondwetlike pligte nakom om almal in ons samelewing te beskerm. Die tyd vir woorde is verby – dit is nou tyd vir daadwerklike optrede.”

Maroela Media

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui