Suksesvolle arrestasie van 5 verdagtes betrokke by plaasaanvalle in die Suid- en Wes-Kaap

G24 het vanoggend, 11 Januarie 2025 ’n deurslaggewende deurbraak gemaak in die stryd teen plaasaanvalle met die suksesvolle arrestasie van vyf (5) verdagtes wat betrokke is by ’n reeks plaasaanvalle in die Suid- en Wes-Kaap. Die arrestasies het gevolg na ’n doeltreffende samewerking tussen G24 se spesiale taakspan, ondersoekspanne, SAPD en ander betrokkenes.

Na intensiewe private ondersoeke het die privaat ondersoekspan ‘n voertuig geïdentifiseer wat moontlik met verskeie plaasaanvalle in die streek verband hou.

Hierdie voertuig is gemerk en noukeurig gemoniteer. Volgens inligting wat ingesamel is deur die gebruik van onlangse intelligensie en LPR-rekords, is vasgestel dat die voertuig op pad was na die Breëriviergebied. Die voertuig is later opgespoor in Tulbagh, waar die G24 se ondersoekspanne die situasie dopgehou het.

Vanaf 22:00 op 10 Januarie 2025 het G24 se operasiespan, die voertuig se bewegings gemoniteer. Ná ses en ’n half uur se monitering het vyf verdagtes die voertuig genader en vertrek in die rigting van Wellington. Die situasie is onmiddellik met alle relevante eenhede gedeel.

Deur gesamentlike kragte, wat die samewerking van plaasaanval-ondersoekspanne insluit, is die voertuig deur alle eenhede in ’n taktiese stop gekeer, waarna die vyf verdagtes aangekeer is. Die verdagtes, wat bekend is vir hul betrokkenheid by vorige plaasaanvalle en moorde, is deursoek en tydens die deursoekingsproses is huisbraak items, balaklavas, handskoene en ander items gevind wat dikwels deur plaasaanvallers gebruik word.

Dit is ook vermoed dat hierdie verdagtes moontlik verantwoordelik is vir ’n onlangse plaasaanval in Stellenbosch.

Vermoedelik gesteelde items, insluitend juweliersware en ander besittings, is in die besit van die verdagtes gevind.

G24 beskou hierdie arrestasies as ’n beduidende deurbraak in die stryd teen plaasaanvalle, aangesien hierdie groep bekend is vir hul uiterste geweld en die gekondisioneerde modus operandi wat hulle in hul misdade gebruik.

G24 wil alle spanlede en ander betrokkenes wat met hierdie operasie gehelp het, bedank. ’n Spesiale dank gaan uit na die G24 se Spesiale Taakspan en Ondersoekspan, SAPD, en ander privaat rolspelers wat die suksesvolle arrestasies moontlik gemaak het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui